Skip to : [Content] [Navigation]

Kopiereg van die Bybelteks - © Bybelgenootskap van Suid Afrika

Vers nr. Vers Voetnota
1

Hiskia seun van koning Agas van Juda het koning geword in die derde jaar nadat Hosea seun van Ela koning van Israel geword het.

Juda: Die mense in die suide van die land. Israel: ’n Naam vir die mense in die noorde van die land. Hulle het ná die tyd van koning Salomo hulle eie koning gehad en hulle eie hoofstad, Samaria.
2

Hiskia was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 29 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Abi dogter van Sagaria.

Abi: In 2 Kron 29:1 is haar naam Abija.
3

Hiskia het dinge gedoen waarvan die Here hou, soos sy voorvader Dawid ook gedoen het.

Voorvader Dawid: Die konings in Jerusalem was almal van die nageslag van Dawid.
4

Dit is hy wat die offer-plekke laat afbreek het. Hy het die klip-pale stukkend gebreek en die gewyde pale afgekap. Hy het ook die brons slang stukkend laat slaan wat Moses in die woestyn gemaak het, want die Israeliete het nog altyd vir die slang wierook gebrand. Hulle het die slang “Negustan” genoem.

Offer-plekke: Plekke waar mense offers gebring het vir afgode of vir die Here. Klip-pale: Klippe wat mense soos gedenkstene regop in die grond geplant het. Die klip-pale het gewoonlik gestaan waar mense die afgod Baäl gedien het. Gewyde pale: Houtpale wat gewoonlik gestaan het by plekke waar mense die godin Asjera aanbid het. Die brons ... gemaak het: Kyk Num 21:8-9. Brons: Koper en tin wat gemeng is. Brons is harder as koper. Wierook: Wierook is ’n soort gom van ’n boom. Die priesters het wierook en speserye gemeng en dit gebrand om wierook-offers te wees wat lekker ruik.
5

Hiskia het geglo dat die Here, die God van Israel, sal doen wat Hy gesê het. Daar was voor die tyd van Hiskia en ná sy tyd nie nog ’n koning van Juda soos Hiskia nie.

6

Hy het aangehou om die Here te dien, hy het nie opgehou om dit te doen nie en hy was gehoorsaam aan die wette wat die Here vir Moses gegee het.

7

Die Here was by Hiskia, en dit het goed gegaan met alles wat hy gedoen het. Hiskia het opstandig geword teen die koning van Assirië en hy het opgehou doen wat die koning van Assirië wou hê.

Opstandig: Ongehoorsaam en hardkoppig.
8

Hiskia het die Filistyne oorwin tot by die stad Gasa en die plekke daar naby, hy het elke stad oorwin.

9

In die vierde jaar nadat Hiskia koning geword het, in die sewende jaar nadat Hosea seun van Ela koning van Israel geword het, het koning Salmaneser van Assirië gekom en hy het Samaria van al die kante aangeval.

Israel: ’n Naam vir die mense in die noorde van die land. Hulle het ná die tyd van koning Salomo hulle eie koning gehad en hulle eie hoofstad, Samaria.
10

Hy het die stad ná drie jaar oorwin. Dit was in die sesde jaar nadat Hiskia koning geword het, en in die negende jaar nadat Hosea koning van Israel geword het.

11

Die koning van Assirië het die mense van Israel gevang en weggevat na Assirië. Hy het hulle laat woon in die stad Galag en by die Gabor-rivier in die land Gosan en in die stede van Medië.

12

Dit het gebeur omdat die mense van Israel nie gehoorsaam was aan hulle God die Here nie. Hulle het nie gedoen wat die Here in sy verbond gesê het nie. Hulle het ook nie gedoen wat Moses, die dienaar van die Here, gesê het nie. Hulle was ongehoorsaam en hulle het nie gedoen wat hulle moes doen nie. (Kyk ook 2 Kron 32:1; Jes 36:1; 2 Kron 32:9-17; Jes 36:2-22)

Verbond: ’n Ooreenkoms. Die Here belowe om iets te doen of te gee wat goed sal wees vir die mense. Die mense met wie die Here ’n verbond maak, moet lewe soos Hy wil hê. Dienaar: ’n Dienaar van die Here behoort aan die Here, en die Here het hom gekies om iets baie spesiaal te doen.
13

Koning Sanherib van Assirië het al die sterk stede in die land Juda aangeval en hy het hulle oorwin. Dit was in die veertiende jaar nadat Hiskia koning geword het.

14

Koning Hiskia van Juda het vir die koning van Assirië in die stad Lakis ’n boodskap gestuur. Hiskia het vir hom gesê: “Ek het verkeerd gedoen. Jy moenie teen my oorlog maak nie, ek sal vir jou betaal wat jy vra.” Die koning van Assirië het gesê Hiskia moet 300 talente silwer en 30 talente goud betaal.

Juda: Die mense in die suide van die land. Talent: Een talent was omtrent 34,2 kilogram. Hierdie 300 talente was omtrent 10 260 kilogram. 30 talente: Hierdie 30 talente was meer as 1 000 kilogram.
15

Hiskia het vir die koning van Assirië al die silwer gegee wat hy kon kry in die tempel en in die stoorkamers van die paleis.

Tempel: ’n Gebou waar mense offers gebring het en gebid het en waar hulle die Here gedien het.
16

Hiskia het ook in daardie tyd die goudplaat afgehaal wat hy aan die tempel se deure en aan die deure se rame laat sit het. Hy het dit vir die koning van Assirië gegee.

17

Die koning van Assirië het sy hoof-offisier en twee ander belangrike offisiere van die stad Lakis na koning Hiskia toe gestuur. Daar was baie soldate saam met die offisiere. Die offisiere het gaan staan by die watersloot uit die boonste dam. Dit was langs die pad na die plek waar die mense altyd die wol gewas het.

Hoof-offisier: ’n Offisier wat die hoof is oor die ander offisiere. Offisier: ’n Soldaat wat die hoof is oor ander soldate.
18

Die offisiere het geskree en gevra waar die koning is. Eljakim seun van Gilkija, en Sebna en Joag, seun van Asaf, het na die offisiere toe gegaan. Hulle was die drie belangrikste amptenare van koning Hiskia.

Amptenaar: Iemand wat vir die koning gewerk het en wat hom moes help om die land te regeer.
19

Die hoof-offisier het vir hulle gesê: “Julle moet vir koning Hiskia sê ons bring ’n boodskap van die groot koning, die koning van Assirië. Die koning vra vir Hiskia: Hiskia, dink jy iemand kan jou help?

20

Jy wil oorlog maak teen my, maar dit sal jou nie help om net te praat en planne te maak nie.

21

Jy dink nou Egipte sal jou help, maar Egipte is soos ’n riet-kierie wat gebreek het. As jy op die riet druk, dan steek dit jou hand stukkend. Die farao, die koning van Egipte, is soos ’n riet-kierie vir almal wat dink dat hy hulle sal help.

Riete: Lang plante wat by die water groei. Farao: Hulle het die koning van Egipte “die farao” genoem. Dit is ’n woord in die Egiptiese taal en dit beteken “Groot huis”.
22

Julle sê vir my dat julle God die Here julle sal help, maar ek sê Hy sal dit nie doen nie, want Hiskia het julle God se offer-plekke en altare afgebreek. Hiskia het vir die mense van Juda en Jerusalem gesê hulle mag net bid by die brandoffer-altaar in Jerusalem.

Offer-plekke: Plekke waar mense offers gebring het vir afgode of vir die Here. Altaar: ’n Tafel van klip of metaal of grond. Mense het daarop ge-offer. Brandoffer-altaar: ’n Tafel van klip of metaal of grond. Die priesters moes die brand-offers daarop offer.
23

Ek sal vir jou sê wat my koning sal doen, die koning van Assirië. Hy sal vir jou 2 000 perde gee as jy genoeg soldate het om op die perde te ry. Maar jy het nie genoeg soldate nie.

24

Jy kan nie ’n oorlog wen teen een goewerneur nie, teen een van die onbelangrikste amptenare van my koning nie. Maar nou dink jy Egipte kan jou help. Jy dink Egipte kan vir jou oorlogkarre en perde gee.

Goewerneur: ’n Belangrike amptenaar van die koning. Hy moes in die koning se plek regeer oor ’n land. Oorlogkar: ’n Perdekar met twee wiele. Die mense het dit gebruik om oorlog te maak.
25

Jy moet ook weet dit is nie ék wat besluit het om hierdie land te verwoes nie. Dit is die Here wat vir my gesê het: ‘Jy moet daardie land gaan verwoes.’ ”

Verwoes: Niks laat oorbly van iets of iemand nie.
26

Eljakim en Sebna en Joag het vir die hoof-offisier gesê: “Jy moet asseblief Aramees praat met ons, dit is ’n taal wat ons verstaan. Jy moenie met ons Judees praat nie, want ons wil nie hê dat die mense op die muur moet verstaan wat jy sê nie.”

Aramees: Die taal van die Arameërs. Hulle was familie van die Israeliete. Judees: Die taal van die mense van Juda.
27

Die hoof-offisier het gesê: “My koning het my nie gestuur om hierdie boodskap net vir julle koning en vir julle te bring nie. Ek moet die boodskap ook bring vir hierdie mense wat op die muur sit. Hulle sal hulle eie mis moet eet en hulle eie urine moet drink, en julle sal dit ook moet doen.”

28

Toe gaan staan die hoof-offisier by die muur. Hy het Judees gepraat en hard gesê: “Julle moet hoor wat sê die groot koning, die koning van Assirië.

29

Die koning sê julle moenie dat Hiskia julle bedrieg nie. Hiskia kan julle nie red nie.

Bedrieg: Iemand iets laat glo wat nie waar is nie.
30

Hiskia sê julle moet glo dat die Here julle sal red, hy sê die koning van Assirië sal nie hierdie stad oorwin nie, dit is seker. Maar julle moenie vir Hiskia glo nie.

31

Julle moenie na hom luister nie, want die koning van Assirië sê: ‘Julle moet vrede maak met my en julle moet na my toe kom. Dan kan julle elkeen eers op sy eie grond bly en elkeen kan sy eie druiwe en vye eet en water drink uit sy eie put.

Put: ’n Gat in die grond of in klip. Partymaal was daar water in die gat, en partymaal het mense iets daarin gebêre. In die tyd van die Bybel het mense partymaal droë putte gebruik om mense in te hou soos in tronke.
32

Later sal ek kom en ek sal julle wegvat na ’n land wat soos julle land is, ’n land waar daar koring en wyn is, ’n land waar daar kos en wingerde is, ’n land waar daar olyf-olie en heuning is. Ek sal dit doen sodat julle kan lewe en nie sal sterf nie. Julle moet oppas dat Hiskia julle nie bedrieg nie. Hy sê die Here sal julle red,

Wingerd: Die wingerdstokke wat saam op ’n stuk grond groei.
33

maar ek vra vir julle: Kon die gode van die ander volke hulle lande beskerm teen die koning van Assirië?

Gode: Mense het verskillende dinge aanbid omdat hulle gedink het daardie dinge regeer hulle lewens. Hulle het daardie dinge “gode” genoem.
34

Nee. Waar is die gode van die stede Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarwajim, Hena en Awwa? Daardie gode kon nie vir hulle help nie. En wie kon die mense van Samaria beskerm teen my? Niemand.

35

Wie van al die gode van daardie lande kon sy land beskerm teen my? Nie een nie, en die Here kan Jerusalem ook nie beskerm teen my nie.’ ”

36

Eljakim en die ander twee manne het stilgebly, hulle het nie die hoof-offisier geantwoord nie, want koning Hiskia het gesê hulle moenie die hoof-offisier antwoord nie.

37

Hulle het na Hiskia toe gegaan en hulle het hulle klere geskeur en vir hom vertel wat die hoof-offisier gesê het.

Klere skeur: Wanneer iemand wou wys dat hy rou, of dat hy hartseer of jammer is, of dat hy baie ontsteld is, dan het hy partymaal sy klere geskeur.