| Vers nr. | Vers | Voetnota |
|---|---|---|
| 1 | Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here. | |
| 2 | Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam, dié wat met hulle hele hart sy wil doen, | |
| 3 | geen onreg pleeg nie en in sy weë wandel. | |
| 4 | U het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word. | |
| 5 | As ek tog maar net op 'n vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte kan hou! | |
| 6 | As ek al u gebooie in ag neem, sal ek nooit raad-op wees nie. | |
| 7 | U bepalings is regverdig; as ek hulle ter harte neem, sal ek U loof met 'n opregte hart. | |
| 8 | Ek sal my aan u voorskrifte hou: moet my tog nooit verlaat nie. | |
| 9 | Hoe kan 'n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord! | |
| 10 | Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart, laat my nie afwyk van u gebooie nie. | |
| 11 | Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U. | |
| 12 | Aan U kom die lof toe, Here, leer my u voorskrifte. | |
| 13 | Al u bepalings wil ek een vir een opnoem. | |
| 14 | Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld. | |
| 15 | U bevele bly my altyd by. Ek gee ag op die pad wat U aanwys. | |
| 16 | Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie. | |
| 17 | Doen goed aan u dienaar, dan sal ek lewe en u woord gehoorsaam. | |
| 18 | Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar. | |
| 19 | Hier op aarde is ek net op u beskerming aangewese: laat my tog nie sonder u gebooie wees nie. | |
| 20 | Ek kwyn weg van verlange na u bepalings. | |
| 21 | U straf die hovaardiges, die vervloektes wat van u gebooie afwyk. | |
| 22 | Keer tog dat ek nie beledig of gesmaad word nie, want ek kom u verordeninge na. | |
| 23 | Selfs al smee mense wat mag het, komplotte teen my, ek sal my hou aan wat U neergelê het. | |
| 24 | U verordeninge is my vreugde, hulle is my raadgewers. | |
| 25 | Ek verkeer in doodsgevaar, gee my nuwe lewe soos U in u woord beloof het. | |
| 26 | Ek het my lewensloop aan U bekend gemaak en U het my gebed verhoor; leer my u voorskrifte. | |
| 27 | Leer my hoe om u bevele uit te voer. Ek wil van u magtige dade vertel. | |
| 28 | Ek kwyn weg van kommer, skenk my krag soos U in u woord beloof het. | |
| 29 | Hou valsheid ver van my af, wees my genadig, leer my u wet. | |
| 30 | Ek kies die betroubare pad, ek lewe volgens u bepalings. | |
| 31 | Ek hou vas aan u verordeninge, Here, moet tog nie dat my lewe 'n teleurstelling word nie. | |
| 32 | Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam, want U verryk my lewe. | |
| 33 | Here, leer my hoe om u voorskrifte uit te voer, sodat ek my tot die einde toe daaraan kan hou. | |
| 34 | Gee my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam en dit met my hele hart kan onderhou. | |
| 35 | Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde. | |
| 36 | U verordeninge, laat dié my na aan die hart lê, nie die begeerte om myself te verryk nie. | |
| 37 | Weerhou my van 'n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys. | |
| 38 | Vervul ook aan my die belofte wat U gegee het aan dié wat U dien. | |
| 39 | Die venyn van mense, daarvoor is ek bang, moenie dat dit my tref nie. Maar u bepalings, dié is goed. | |
| 40 | Ek wil u bevele nakom. Hou my in die lewe, want U is getrou. | |
| 41 | Bewys aan my u troue liefde, Here, red my volgens u belofte. | |
| 42 | Dan sal ek dié wat my vals beskuldig, kan antwoord, want ek vertrou op u woord. | |
| 43 | Weerhou my tog van alles wat onwaar is. In u bepalings stel ek my vertroue. | |
| 44 | Ek wil u wet my hele lewe lank onderhou. | |
| 45 | My lewe sal veilig wees, want ek vra steeds wat u bevele is. | |
| 46 | Selfs voor die hoogste gesag sal ek u verordeninge met vrymoedigheid aanhaal. | |
| 47 | In u gebooie, wat ek liefhet, sal ek my verlustig. | |
| 48 | Op u gebooie, wat ek liefhet, sal ek al my hoop vestig. U voorskrifte sal my bybly. | |
| 49 | Onthou tog u woord aan my, die woord waarop U my laat hoop het. | |
| 50 | Dit is my troos in my ellende: dat u belofte my in die lewe hou. | |
| 51 | Ek moes die felle spot van hovaardige mense verduur, maar van u wet het ek nie afgewyk nie. | |
| 52 | Ek onderhou u bepalings van altyd af, Here: dit gee my vertroue. | |
| 53 | Ontsteltenis het my oorval oor die goddeloses wat u wet verontagsaam. | |
| 54 | U voorskrifte is vir my 'n lied in my lewe hier op aarde. | |
| 55 | Selfs in die nag dink ek aan U, Here, en is ek gehoorsaam aan u wet. | |
| 56 | Om u bevele uit te voer, is vir my die lewe. | |
| 57 | Ek het gesê: "Dít is my lewe, Here, om u woord te gehoorsaam." | |
| 58 | Ek smeek U met my hele hart: "Wees my genadig, soos U beloof het. | |
| 59 | Ek het die koers van my lewe oordink en na u verordeninge teruggekeer. | |
| 60 | Ek talm nie, ek haas my om u gebooie te onderhou." | |
| 61 | Die goddeloses wou my in hulle strikke kry, maar ek het u wet nie verontagsaam nie. | |
| 62 | Selfs in die middel van die nag staan ek op om U te loof vir u regverdige bepalings. | |
| 63 | Ek is 'n vriend van almal wat U dien en u bevele gehoorsaam. | |
| 64 | Die aarde is vol van u troue liefde, Here. Leer my u voorskrifte. | |
| 65 | U het aan my goed gedoen, Here, soos U beloof het. | |
| 66 | Gee my goeie insig en kennis, want ek stel my vertroue in u gebooie. | |
| 67 | Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord. | |
| 68 | U is goed en U doen goed; leer my u voorskrifte. | |
| 69 | Hovaardige mense beswadder my, maar ek voer u bevele uit met my hele hart. | |
| 70 | Hulle staan koud teenoor u wet, maar ék verlustig my daarin. | |
| 71 | Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer. | |
| 72 | U wet is vir my kosbaarder as 'n oorvloed van goud en silwer. | |
| 73 | Met u eie hande het U my gemaak, my gevorm; gee my insig, dat ek u gebooie kan verstaan. | |
| 74 | Dié wat U dien, is bly as hulle my sien, want ek vertrou op u woord. | |
| 75 | Ek weet, Here, dat u bepalings regverdig is. Dat U my laat swaarkry, is 'n teken van u trou. | |
| 76 | Gee tog vir my uitkoms deur u troue liefde, soos U my beloof het. | |
| 77 | Ontferm U oor my, dat ek kan lewe, want ek verlustig my in u wet. | |
| 78 | Laat die hovaardige mense die slegste daarvan afkom, want hulle het my vals beskuldig; u bevele bly my altyd by. | |
| 79 | Laat dié wat U dien en u verordeninge ken, aan my kant wees. | |
| 80 | Laat my volledig by u voorskrifte bly, sodat ek nooit raad-op sal wees nie. | |
| 81 | Ek smag na u redding, ek vertrou op u woord. | |
| 82 | Ek sien verlangend uit na die vervulling van u belofte en vra: "Wanneer gee U tog vir my uitkoms?" | |
| 83 | Ek het verskrompel soos 'n velsak in die rook, maar u voorskrifte het ek nie verontagsaam nie. | |
| 84 | Hoe lank moet ek nog so lewe? Wanneer straf U my vervolgers? | |
| 85 | Die hovaardiges, wat nie volgens u wet lewe nie, het vir my meer as een keer 'n gat gegrawe om in te val. | |
| 86 | Op al u gebooie kan ek my verlaat. Help my, want dié mense vervolg my sonder rede. | |
| 87 | Hulle het my byna van die aarde af laat verdwyn, maar u bevele het ek nie verontagsaam nie. | |
| 88 | Hou my in die lewe omdat U my liefhet, dan sal ek u onderwysing gehoorsaam. | |
| 89 | U woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel. | |
| 90 | U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde gemaak, en dit staan vas. | |
| 91 | Ja, wat U bepaal het, staan vandag nog vas, alles is aan U onderworpe. | |
| 92 | As ek my nie in u wet verlustig het nie, het ek omgekom in my ellende. | |
| 93 | Ek sal u bevele nooit verontagsaam nie, want deur hulle het U my in die lewe gehou. | |
| 94 | Ek behoort aan U, red my, want ek vra steeds wat u bevele is. | |
| 95 | Al staan die goddeloses gereed om my te vernietig, u verordeninge sal ek in ag bly neem. | |
| 96 | Ek het ondervind dat alle volmaaktheid perke het, net u gebod het geen begrensing nie. | |
| 97 | Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by. | |
| 98 | U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, en is altyd by my. | |
| 99 | Ek munt uit bo al my leermeesters, want u verordeninge bly my by. | |
| 100 | Ek het meer insig as ouer mense, want ek gehoorsaam u bevele. | |
| 101 | Ek het my voete van elke verkeerde pad af gehou sodat ek gehoorsaam kan wees aan u woord. | |
| 102 | Van u bepalings het ek nie afgewyk nie, want U het my dit geleer. | |
| 103 | Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond. | |
| 104 | U bevele gee my insig, daarom haat ek elke verkeerde pad. | |
| 105 | U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. | |
| 106 | Ek het 'n eed afgelê, en daarby sal ek bly, om my aan u bepalings te hou; hulle is regverdig. | |
| 107 | Ek ly swaar, Here, hou my in die lewe, soos U beloof het. | |
| 108 | Neem tog my dank aan, Here. Leer my u bepalings. | |
| 109 | My lewe is gedurig in gevaar, maar u wet verontagsaam ek nie. | |
| 110 | Die goddeloses stel vir my 'n strik, maar van u bevele wyk ek nie af nie. | |
| 111 | U verordeninge maak ek altyd my eie, want hulle is vir my 'n vreugde. | |
| 112 | Ek lê my daarop toe om u voorskrifte altyd uit te voer, tot die einde toe. | |
| 113 | Ek haat huigelary, maar u wet het ek lief. | |
| 114 | By U skuil ek, U beskerm my, in u woord stel ek my vertroue. | |
| 115 | Gaan weg van my af, julle wat onreg doen; ek sal aan die gebooie van my God gehoorsaam bly. | |
| 116 | Laat my vas staan soos U beloof het, dat ek kan lewe, dat ek nie teleurgestel sal wees in my verwagting nie. | |
| 117 | Beskerm my, dan sal ek behoue bly en u voorskrifte gedurig voor oë hou. | |
| 118 | U verwerp almal wat van u voorskrifte afdwaal; met hulle ontrou mislei hulle hulleself. | |
| 119 | U verwyder al die goddeloses van die aarde af soos waardelose skuim, daarom het ek u verordeninge lief. | |
| 120 | Ek sidder van vrees vir U, ek het diepe ontsag vir u bepalings. | |
| 121 | Ek het gedoen wat reg en regverdig is, moet my tog nie oorgee aan die genade van dié wat my veronreg nie. | |
| 122 | Tree tog vir my in dat dit met my goed kan gaan, moenie toelaat dat hovaardige mense my verdruk nie. | |
| 123 | Ek smag na die bevryding wat U bring, na u woord wat my red. | |
| 124 | Handel met my volgens u troue liefde, leer my u voorskrifte. | |
| 125 | Ek is u dienaar: onderrig my tog in u verordeninge. | |
| 126 | Dit is tyd dat die Here ingryp teen dié wat sy wet oortree. | |
| 127 | Ek het u gebooie liewer as goud, as fyn goud. | |
| 128 | Daarom leef ek nougeset volgens al u bevele en haat ek elke verkeerde pad. | |
| 129 | U verordeninge is wonderlik, daarom kom ek hulle na. | |
| 130 | Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is. | |
| 131 | Met my hele wese smag ek na u gebooie, verlang ek daarna. | |
| 132 | Sien my in genade aan soos U altyd doen vir dié wat u Naam liefhet. | |
| 133 | Laat u woord my op die regte pad hou; moet tog nie dat enige kwaad die oorhand oor my kry nie. | |
| 134 | Bevry my van veronregting deur mense. Ek wil u bevele gehoorsaam. | |
| 135 | Verskyn tog tot my redding, leer my u voorskrifte. | |
| 136 | My trane vloei sonder ophou omdat die mense u wet nie onderhou nie. | |
| 137 | U is regverdig, Here, wat U bepaal, is reg. | |
| 138 | In groot regverdigheid en trou het U u verordeninge uitgevaardig. | |
| 139 | Ontsteltenis verteer my omdat my teëstanders u woord verontagsaam. | |
| 140 | U woord is baie suiwer, ek het dit lief. | |
| 141 | Al is ek gering en verag, u bevele verontagsaam ek nie. | |
| 142 | U is altyd getrou en regverdig, u wet staan altyd vas. | |
| 143 | Al oorval angs en benoudheid my, in u gebooie bly ek my verlustig. | |
| 144 | U verordeninge is altyd regverdig; gee my insig daarin, dat ek kan lewe. | |
| 145 | Ek roep na U met my hele hart, verhoor tog my gebed, Here, ek wil u voorskrifte nakom. | |
| 146 | Ek roep na U, red my, ek wil u verordeninge gehoorsaam. | |
| 147 | In die oggendskemer al roep ek om hulp en stel ek my vertroue in u woord. | |
| 148 | Die hele nag lê ek wakker en oorpeins ek u woord. | |
| 149 | Handel volgens u liefde, Here, luister tog na my. Laat u bepalings geld, hou my in die lewe. | |
| 150 | Dié wat my met soveel lis vervolg, kom steeds nader, maar van u wet af bly hulle ver. | |
| 151 | U is by my, Here, alles wat U gebied het, staan vas. | |
| 152 | Van lankal af weet ek van u verordeninge dat U hulle altyd vas laat staan. | |
| 153 | Aanskou tog my ellende en red my, want u wet het ek nie verontagsaam nie. | |
| 154 | Behartig tog my saak en bevry my, hou my in die lewe volgens u belofte. | |
| 155 | Vir die goddeloses is daar nie uitkoms nie, want hulle steur hulle nie aan u voorskrifte nie. | |
| 156 | U barmhartigheid is groot, Here, laat u bepalings geld, hou my in die lewe. | |
| 157 | Ek het baie vervolgers en teëstanders, maar van u verordeninge wyk ek nie af nie. | |
| 158 | Ek het die verraad van die ontroues gesien, en dit het my met walging vervul dat hulle u woord nie gehoorsaam nie. | |
| 159 | Neem tog in ag dat ek u bevele liefhet, Here, hou my in die lewe omdat U my liefhet. | |
| 160 | Op u woord kan 'n mens hom geheel en al verlaat. Al u bepalings is regverdig. Hulle staan vas. | |
| 161 | Maghebbers vervolg my sonder oorsaak, maar u woord is die enigste wat ek vrees. | |
| 162 | Oor u woord is ek so bly soos iemand wat 'n groot skat in die hande gekry het. | |
| 163 | Ek haat en verafsku leuens, maar u wet het ek lief. | |
| 164 | Ek loof U soveel keer elke dag oor u bepalings. Hulle is regverdig. | |
| 165 | Vir dié wat u wet liefhet, is daar groot sekerheid; niks kan hulle laat struikel nie. | |
| 166 | Ek vestig my hoop op hulp van U, Here, u gebooie gehoorsaam ek. | |
| 167 | Ek kom u verordeninge na, ek het hulle baie lief. | |
| 168 | U bevele en verordeninge gehoorsaam ek. My hele lewe lê oop voor U. | |
| 169 | Gee tog ag op my geroep, Here, gee my insig soos U beloof het. | |
| 170 | Luister tog na my smeekgebed, red my volgens u belofte. | |
| 171 | Die lof sal oor my lippe stroom, want U leer my u voorskrifte. | |
| 172 | Ek sal u woord besing, want al u gebooie is regverdig. | |
| 173 | Help my tog altyd, want ek stel u bevele eerste. | |
| 174 | Ek smag na u hulp, Here, in u wet vind ek my vreugde. | |
| 175 | Laat my lewe dat ek U kan loof, laat u bepalings my steun wees. | |
| 176 | As ek sou ronddwaal soos 'n skaap wat weggeraak het, soek my dan, want u gebooie het ek nie verontagsaam nie. |
Ontwikkel deur