Skip to : [Content] [Navigation]

Kopiereg van die Bybelteks - © Bybelgenootskap van Suid Afrika

Vers nr. Vers Voetnota
1

Jesus het weer die mense langs die see begin leer. 'n Baie groot menigte het by Hom saamgedrom, sodat Hy op die see in 'n skuit gaan sit het. Die hele menigte was langs die see op die strand.

2

Hy het hulle baie deur gelykenisse geleer. So het Hy onder andere gesê terwyl Hy hulle leer:

3

“Luister hier! 'n Saaier het eendag gaan saai.

4

Met die saai het 'n deel van die saad op die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik.

5

'n Ander deel daarvan het op 'n klipbank geval, waar daar nie baie grond was nie. Dit het gou opgekom, omdat die grond nie diep was nie.

6

Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog.

7

'n Ander deel het tussen die onkruid geval. Die onkruid het opgekom en dit laat verstik, en dit het nie saad geskiet nie.

8

Die ander saad het in goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en 'n oes gelewer. Party het dertigvoudig gedra, ander sestig- en nog ander honderdvoudig.”

9

Verder het Hy gesê: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!”

10

Toe hulle alleen was, het die mense wat saam met die twaalf by Hom was, Hom oor die gelykenisse uitgevra,

11

en Hy het vir hulle gesê: “Aan julle is die insig in die geheim van die koninkryk van God gegee; maar vir dié wat daarbuite is, bly alles net by gelykenisse,

12

sodat “hulle kyk en kyk en tog nie sien nie, en hoor en hoor en tog nie verstaan nie, dat hulle hulle nie miskien bekeer en vergewe word nie. ”

4:12: Vgl. Jes. 6:9-10 .
13

Hy sê toe vir hulle: “Julle begryp nie eens hierdie gelykenis nie. Hoe sal julle dan al die ander gelykenisse kan verstaan?

14

“Die saaier saai die woord.

15

Daar is mense by wie daar soos op 'n pad gesaai word: sodra hulle die woord hoor, kom die Satan en vat die woord weg wat in hulle gesaai is.

16

Daar is mense by wie daar soos op klipbanke gesaai word: sodra hulle die woord hoor, neem hulle dit met blydskap aan.

17

Hulle laat dit egter nie in hulle wortel skiet nie en hou nie lank uit nie. As hulle daarna ter wille van die woord verdruk of vervolg word, word hulle gou afvallig.

18

Daar is mense by wie daar soos tussen die onkruid gesaai word. Dit is hulle wat die woord hoor,

19

maar die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit bly sonder vrug.

20

Dan is daar die mense by wie daar soos op goeie grond gesaai is, wat die woord hoor en aanvaar en vrug voortbring, party dertig-, party sestig- en party honderdvoudig.”

21

Hy het vir hulle gesê: “'n Lamp kom mos nie onder 'n emmer of onder 'n bed nie? Is dit nie bedoel om op 'n staander gesit te word nie?

22

Daar is geen geheim nie, of dit moet openbaar gemaak word; en daar word niks geheim gehou nie, of dit moet aan die lig kom.

23

As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister!”

24

Hy het ook vir hulle gesê: “Gee aandag aan wat julle hoor! Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word en daar sal vir julle nog toegevoeg word.

25

Wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word; en wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.”

26

Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land

27

en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie.

28

Vanself bring die aarde die graan voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die vol koringaar.

29

En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.”

30

Hy het ook gesê: “Hoe sal ons die koninkryk van God voorstel, of met watter gelykenis sal ons dit uitbeeld?

31

Dit is soos 'n mosterdsaadjie. Wanneer dit in die land geplant word, is dit die kleinste van al die soorte saad daar in die land.

32

Maar as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante. Dit kry sulke groot takke dat die voëls in sy skaduwee kom nes maak.”

33

Deur baie sulke gelykenisse het Jesus met die mense oor sy boodskap gepraat, vir sover hulle dit kon verstaan.

34

Sonder 'n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer Hy met sy dissipels alleen was, het Hy vir hulle alles uitgelê.

35

Laat daardie middag sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.”

36

Hulle het toe die mense wat daar was, daar laat bly en Hom saamgeneem in die skuit waarin Hy gesit het. Daar was ook nog ander skuite by.

37

Skielik het daar 'n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het.

38

Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”

39

Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!” Die wind het gaan lê en daar het 'n groot stilte gekom.

40

Toe sê Hy vir hulle: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?”

41

Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”