Skip to : [Content] [Navigation]

Kopiereg van die Bybelteks - © Bybelgenootskap van Suid Afrika

Vers nr. Vers Voetnota
1

Nadat hulle Elim verlaat het, het die hele volk Israel in die Sinwoestyn aangekom wat tussen Elim en Sinai lê. Dit was op die vyftiende van die tweede maand nadat hulle uit Egipte getrek het.

2

In die woestyn het die hele volk hulle teenoor Moses en Aäron begin verset

3

en gesê: “As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.”

4

Toe het die Here vir Moses gesê: “Let nou mooi op. Ek sal elke keer vir julle kos uit die hemel laat reën. Dan moet die volk elke dag gaan en dié dag se voorraad optel. So sal Ek toets of hulle my opdrag wil nakom of nie.

5

As hulle op die sesde dag voorberei wat hulle ingebring het, moet dit dubbel soveel wees as wat hulle elke dag optel.”

6

Toe sê Moses en Aäron vir al die Israeliete: “Vanaand sal julle besef dat dit die Here is wat julle uit Egipte bevry het,

7

en môreoggend sal julle sien hoe magtig die Here is. Hy het gehoor dat julle julle teen Hóm verset. Dat julle julle teen óns verset, is niks nie.”

8

Verder het Moses gesê: “As die Here vanaand vir julle vleis gee en môreoggend oorgenoeg kos om te eet, sal julle besef Hy het julle verset teen Hom opgemerk. Dit was nie teen ons nie, maar teen die Here dat julle julle verset het.”

9

Moses het toe vir Aäron gesê: “Beveel die hele gemeente van Israel om voor die Here te kom staan, want Hy het hulle verset opgemerk.”

10

Nadat Aäron dit vir hulle gesê het, kyk die Israeliete na die woestyn se kant toe om, en toe word die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar in die wolk.

11

Die Here sê toe vir Moses:

12

“Ek het die verset van die Israeliete opgemerk. Sê vir hulle: Teen skemeraand sal julle vleis eet en teen môreoggend sal julle oorgenoeg kos hê sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is.”

13

Teen die aand se kant het daar kwartels aangevlieg gekom en hulle het die hele kamp vol gesit. Die volgende oggend was daar 'n wolk rondom die kamp,

14

en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp.

15

Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit dié?” want hulle het nie geweet wat dit is nie. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet.

16

Die Here het beveel: Gaan maak dit bymekaar volgens elke gesin se behoefte, twee liter per kop. Elkeen moet vat volgens die getal mense in sy tent.”

17

Die Israeliete het dit toe gaan optel, die een baie en die ander 'n bietjie,

18

en toe hulle dit met 'n maatemmer afmeet, het dié met baie nie te veel nie, en dié met 'n bietjie nie te min gehad nie. Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak.

19

Moses het toe vir hulle gesê: “Niemand mag iets daarvan laat oorskiet tot môreoggend nie.”

20

Maar hulle het nie vir Moses geluister nie. Party het daarvan tot die volgende oggend laat oorstaan, maar daar het miet in gekom en dit het gestink. Moses was woedend oor wat hulle gedoen het.

21

Hulle het dit vroeg elke oggend bymekaargemaak, volgens elkeen se behoefte, maar net as die son begin bak, het dit weggesmelt.

22

Op die sesde dag het hulle 'n dubbele porsie opgetel, vier liter vir elkeen. Toe al die leiers van die volk dit vir Moses kom vertel,

23

sê hy vir hulle: “Dit is soos die Here gesê het: Môre is 'n rusdag, 'n gewyde sabbat van die Here. Maak alles gaar, bak wat julle wil bak, en kook wat julle wil kook, en wat oorbly nadat julle geëet het, moet julle wegsit en bewaar vir môre.”

24

Hulle het dit weggesit tot die volgende oggend soos Moses beveel het, en dit het nie sleg geword of miet gekry nie.

25

Toe het Moses gesê: “Eet dit nou vandag, want vandag is dit die sabbat van die Here. In die veld gaan julle niks kry nie.

26

Ses dae moet julle dit bymekaarmaak, maar op die sewende dag, die sabbat, sal daar niks wees nie.”

27

Tog het daar op die sewende dag van die mense uitgegaan om bymekaar te maak, maar hulle het niks gekry nie.

28

Die Here sê toe vir Moses: “Hoe lank gaan julle nog weier om my bevele en opdragte te gehoorsaam?

29

Ek het vir julle die sabbat gegee en daarom gee Ek vir julle op die sesde dag genoeg kos vir twee dae. Elkeen moet bly waar hy is en niemand mag op die sewende dag sy woonplek verlaat nie.”

30

Die volk het op die sewende dag gerus.

31

Die Israeliete het die kos manna genoem. Dit was wit soos koljandersaad en het soos heuningkoek gesmaak.

16:31: Manna beteken “Wat is dit dié?”, vgl. 16:15. .
32

Moses het ook nog gesê: “Die Here het beveel: 'n Volle twee liter manna moet vir die nageslag bewaar word sodat hulle die kos kan sien wat Ek julle in die woestyn gegee het nadat Ek julle uit Egipte bevry het.”

33

Moses sê toe vir Aäron: “Vat 'n kruik en gooi twee liter manna daarin. Sit dit dan voor die Here neer sodat dit vir julle nageslag veilig bewaar kan word.”

34

Aäron het dit voor die getuienis neergesit om dit in bewaring te hou soos die Here vir Moses beveel het.

35

Die Israeliete het veertig jaar lank manna geëet; hulle het dit geëet totdat hulle bewoonde gebied bereik het, tot hulle by die grens van Kanaän gekom het.

36

Die tweelitermaat waarmee die manna afgemeet is, was een tiende van die standaardmaat.