Skip to : [Content] [Navigation]

Kopiereg van die Bybelteks - © Bybelgenootskap van Suid Afrika

Vers nr. Vers Voetnota
1

Die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar, het aangebreek. Dit was die dag waarop die besluit en proklamasie van die koning moes uitgevoer word, die dag waarop die vyande van die Jode gehoop het om hulle te oorweldig. Die omgekeerde het egter gebeur: die Jode het hulle vyande oorweldig.

2

Die Jode het bymekaargekom in hulle stede in al die provinsies van koning Ahasveros om hulle te verdedig teen almal wat hulle ondergang soek. Niemand kon voor hulle standhou nie, al die volke was skrikbevange vir hulle.

3

Al die leiers in die provinsies, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die ander in diens van die koning het die Jode gesteun omdat hulle bang was vir Mordegai,

4

want hy het 'n hoë posisie aan die hof beklee. Dit het deur al die provinsies bekend geword dat hierdie Mordegai al hoe meer mag gekry het.

5

Die Jode het onder al hulle vyande 'n groot slagting met die swaard aangerig, hulle het hulle doodgemaak en uitgeroei. Hulle het met almal wat vir hulle haat, gemaak wat hulle wou.

6

In die vestingstad Susan het die Jode vyf honderd man doodgemaak.

7

Hulle het ook vir Parsandata, Dalfon, Aspata,

8

Porata, Adalja, Aridata,

9

Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata,

10

die tien seuns van Haman, seun van Hammedata en vyand van die Jode, doodgemaak. Op hulle besittings het hulle egter nie beslag gelê nie.

11

Dieselfde dag nog het die koning berig gekry van die getal mense wat in die stad Susan doodgemaak is.

12

Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan het die Jode vyf honderd man doodgemaak, en ook die tien seuns van Haman. Wat sou hulle nog in die ander provinsies van my ryk gedoen het! Is daar iets wat jy nog wil vra? Dit sal aan jou gegee word. Het jy 'n verdere versoek? Dit sal uitgevoer word.”

13

Ester sê toe: “As die koning dit goedvind, laat die Jode in Susan toe om ook môre te doen wat hulle vandag kon doen. En laat die lyke van die tien seuns van Haman aan die galg ophang.”

14

Die koning het bevel gegee dat dit gedoen moet word, en so 'n proklamasie is in Susan uitgevaardig. Ook is die lyke van die tien seuns van Haman opgehang.

15

Die Jode in Susan het toe ook op die veertiende van die maand Adar bymekaargekom. Hulle het in Susan nog drie honderd man doodgemaak, maar nie op hulle besittings beslag gelê nie.

16

Die Jode in die ander provinsies van die ryk het intussen bymekaargekom en hulle verdedig. Hulle het die bedreiging deur hulle vyande afgeweer en van hulle haters vyf en sewentig duisend man doodgemaak, maar nie op hulle besittings beslag gelê nie.

17

Dit het gebeur op die dertiende van die maand Adar. Op die veertiende van die maand het hulle gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak.

18

Die Jode in Susan het egter op die dertiende én op die veertiende van die maand bymekaargekom. Hulle het eers op die vyftiende van die maand gerus en dit 'n dag van feesviering en vreugde gemaak.

19

Daarom maak die Jode op die platteland en dié wat in die klein dorpies woon, die veertiende van die maand Adar 'n dag van vreugde en feesviering, 'n feesdag waarop hulle aan mekaar eetgoed stuur.

20

Mordegai het hierdie gebeure laat neerskryf en briewe gestuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, naby en ver,

21

en die Jode gelas om voortaan elke jaar die veertiende en die vyftiende van die maand Adar te vier

22

as dae waarop die Jode die bedreiging deur hulle vyande afgeweer het. Dit is die maand waarin hulle angs in blydskap verander het en hulle rou in feestelikheid. Hulle moes dit dae van feesviering en vreugde maak en aan mekaar eetgoed en aan die armes geskenke stuur.

23

So het die Jode na aanleiding van Mordegai se brief aan hulle die gebruik waarmee hulle begin het, as 'n vaste gebruik aanvaar.

24

Haman seun van Hammedata die Agagiet en vyand van al die Jode, het naamlik planne gemaak om die Jode uit te roei, en hy het met die Pur, dit is met die lot, beslis om 'n geskikte dag te kry waarop hy verskrikking oor hulle sou bring en hulle sou uitroei.

25

Toe dit egter aan die koning bekend word, het hy skriftelik opdrag gegee dat Haman self die slagoffer moet word van die bose plan wat hy teen die Jode beraam het. Hy en sy seuns is aan die galg opgehang.

26

Dit is waarom hierdie feesdae Purim genoem word, na die woord Pur. Na aanleiding van alles wat in daardie brief van Mordegai geskryf is en wat hulle self van die gebeure gesien en belewe het,

27

het die Jode dit op hulle geneem en hulle en hulle nakomelinge en almal wat by hulle sou aansluit, onherroeplik verbind om voortaan elke jaar hierdie twee dae te vier. Dit moes telkens op die voorgeskrewe wyse en op die voorgeskrewe tyd plaasvind.

28

Hierdie dae moes herdenk en gevier word in elke geslag en in elke familie, in elke provinsie en in elke stad. Hierdie dae van die Purim mag nie afgeskaf word onder die Jode nie en hulle nakomelinge mag nooit daarvan vergeet nie.

29

Koningin Ester, dogter van Abigajil, en die Jood Mordegai het met hulle volle gesag in 'n tweede brief die reëlings oor die Purim bevestig.

30

Mordegai het briewe gestuur aan al die Jode in die honderd sewe en twintig provinsies van koning Ahasveros, hulle voorspoed toegewens en hulle van sy goeie trou verseker.

31

Hy het hulle gelas om hierdie dae van die Purim op die vasgestelde tyd te hou, soos hy, die Jood Mordegai, en koningin Ester dit vir hulle bepaal het, en soos hulle hulleself en hulle nakomelinge daartoe verbind het. Daar was ook voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep.

32

Dit was op Ester se bevel dat die voorskrifte vir hierdie Purimdae vasgestel is. Dit is toe in 'n boek neergeskryf.