Skip to : [Content] [Navigation]

Kopiereg van die Bybelteks - © Bybelgenootskap van Suid Afrika

Vers nr. Vers Voetnota
1

Nadat die oproer bedaar het, het Paulus die gelowiges bymekaargeroep en hulle moed ingepraat. Daarna het hy hulle gegroet en Masedonië toe vertrek.

2

Op sy reis deur daardie gebiede het hy die gelowiges telkens met sy prediking bemoedig. Hy kom toe in Griekeland aan,

3

waar hy drie maande gebly het. Toe hy op vertrek gestaan het Sirië toe, het hy van 'n Joodse komplot teen hom te hore gekom en besluit om deur Masedonië terug te gaan.

4

Pirrus se seun Sopater van Berea het saam met Paulus gereis, en ook Aristargos en Sekundus, albei van Tessalonika, Gaius van Derbe, en Timoteus, asook Tigikus en Trofimus, albei van die provinsie Asië.

5

Hulle het vooruitgegaan en in Troas vir ons gewag.

6

Na die fees van die ongesuurde brood het ons van Filippi af met 'n skip vertrek en vyf dae later by hulle in Troas aangekom. Daar het ons sewe dae gebly.

7

Ons het die Sondag bymekaargekom vir die gemeenskaplike maaltyd. Paulus het die gelowiges toegespreek, en aangesien hy die volgende dag sou vertrek, het hy tot middernag aangehou.

8

Daar was heelwat lampe in die bovertrek waar ons bymekaar was.

9

'n Jongman met die naam Eutigus het op die vensterbank gesit. Hoe langer Paulus gepraat het, hoe vaker het Eutigus geword. Hy het naderhand vas aan die slaap geraak en uit die derde verdieping tot op die grond geval. Toe hulle hom optel, was hy dood.

10

Paulus het ondertoe gegaan, hom oor Eutigus uitgestrek en hom teen hom vasgedruk en gesê: “Moet julle nie ontstel nie. Hy lewe!”

11

Paulus het weer boontoe gegaan, brood gebreek en geëet. Hy het nog lank met hulle gepraat, tot dagbreek, en daarna vertrek.

12

Die mense het toe die seun lewend weggebring huis toe. Hulle was buitengewoon bemoedig deur alles.

13

Ons het vooruit per skip na Assus toe vertrek, waar ons vir Paulus aan boord sou neem. Dit was sy opdrag, omdat hy self oor land daarheen wou gaan.

14

Toe hy ons in Assus kry, het ons hom aan boord geneem en na Mitilene toe gevaar.

15

Daarvandaan het ons die volgende dag verder gevaar en tot regoor Chios gekom. Die dag daarna het ons Samos bereik en nog 'n dag later Milete.

16

Paulus het besluit om by Efese verby te vaar, sodat hy nie tyd in die provinsie Asië sou verloor nie, want hy was haastig om, as dit kon, op pinksterdag in Jerusalem te wees.

17

Van Milete af het Paulus 'n boodskap na Efese toe gestuur om die ouderlinge van die gemeente te laat roep.

18

Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Julle weet hoe ek die hele tyd, van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het, onder julle geleef het;

19

hoe ek die Here in alle nederigheid gedien het te midde van droefheid weens die vervolginge wat ek deur die komplotte van die Jode moes verduur.

20

Julle weet dat ek niks teruggehou het wat vir julle voordelig kon wees nie, toe ek by julle in die openbaar gepreek en julle in julle huise onderrig het.

21

Ek het sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo.

22

“En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat dáár met my sal gebeur, weet ek nie.

23

Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag.

24

Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.

25

“Ek het onder julle almal rondgegaan en die koninkryk van God verkondig, maar nou weet ek dat julle my nie weer sal sien nie.

26

Daarom verklaar ek vandag dat dit nie my skuld is as enigeen van julle verlore gaan nie,

27

want ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie.

28

Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters 'n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun.

29

Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie.

30

Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei.

31

Wees waaksaam. Onthou dat ek elkeen van julle drie jaar lank onderrig het, aanhoudend, dag en nag, baiekeer met trane.

32

Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade. Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het.

33

“Ek het niemand se geld of klere begeer nie.

34

Julle weet self dat ek vir myself en vir die mense wat saam met my was, gesorg het deur met hierdie twee hande van my te werk.

35

Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak 'n mens gelukkiger as om te ontvang.”

36

Nadat Paulus dit gesê het, het hy saam met hulle almal gekniel en gebid.

37

Almal het baie gehuil en hom omhels en gesoen.

38

Hulle was veral hartseer omdat hy gesê het dat hulle hom nie weer sou sien nie. Daarna is hulle saam met hom na die skip toe.