Skip to : [Content] [Navigation]

Kopiereg van die Bybelteks - © Bybelgenootskap van Suid Afrika

Vers nr. Vers Voetnota
1

Daarna het Salomo die leiers van Israel, al die stamhoofde en die Israelitiese familiehoofde, by hom in Jerusalem bymekaargeroep om die verbondsark van die Here uit die Dawidstad, Sion, te laat uitbring.

2

Al die manne van Israel het op die feesdag in die maand Etanim, die sewende maand, by koning Salomo vergader.

3

Nadat al die leiers van Israel gekom het, het die priesters die ark opgetel

4

en die ark, die tent van ontmoeting en al die toebehore van die heiligdom wat in die tent was, gedra. Die priesters en die Leviete het dit gedra.

5

Koning Salomo en die hele gemeente van Israel wat saam met hom voor die ark was, het soveel kleinvee en beeste geoffer dat dit nie getel of bereken kon word nie.

6

Toe het die priesters die verbondsark van die Here na sy plek toe gebring onder die vlerke van die gerubs in die binneste heiligdom van die tempel, dit is die Allerheiligste.

7

Die gerubs se vlerke was oopgesprei oor die staanplek van die ark. Hulle het die ark en sy draaghoute aan die bokant bedek.

8

Die draaghoute was so lank dat hulle punte gesien kon word van die voorkant van die binneste heiligdom af, maar hulle kon nie van buite af gesien word nie. Hulle is vandag nog daar.

9

Daar was niks in die ark nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by Horeb daarin gesit het toe die Here by die uittog van die Israeliete uit Egipte met hulle 'n verbond gesluit het.

10

Toe die priesters uit die heiligdom kom, het 'n wolk die huis van die Here gevul.

11

Daarom kon die priesters nie vir diens aantree nie. Dit was die magtige teenwoordigheid van die Here wat die huis van die Here gevul het.

12

Toe het Salomo gesê: “Die Here het gesê Hy wil in duisternis woon.

13

Daarom, Here, het ek vir U 'n waardige huis gebou, 'n verblyf waar U altyd kan woon.”

14

Daarna het die koning sy gesig na die hele gemeente van Israel toe gedraai en die hele gemeente van Israel geseën terwyl hulle daar staan.

15

Hy het gesê: “Geloof sy die Here die God van Israel wat aan my vader Dawid 'n belofte gedoen het en dit deur sy mag vervul het. Die woorde van die Here was:

16

‘Van die dag af dat Ek my volk Israel uit Egipte gebring het, het Ek uit al die stamgebiede van Israel nie 'n stad gekies waar 'n tempel gebou kan word sodat my Naam daar kan wees nie, maar Ek het vir Dawid gekies sodat hy oor my volk Israel kon regeer.’

17

“My vader Dawid wou 'n tempel bou vir die Naam van die Here die God van Israel,

18

maar die Here het vir my vader Dawid gesê: ‘Dat dit jou voorneme is om 'n tempel vir my Naam te bou – dit is goed dat jy die voorneme het.

19

Maar nie jý sal die tempel bou nie; jou seun wat uit jou voortgekom het, hý sal die tempel vir my Naam bou.’

20

“Die Here het die belofte nagekom wat Hy gemaak het. Ek het my vader Dawid se plek geneem en op die troon van Israel gekom soos die Here beloof het. Die tempel vir die Naam van die Here die God van Israel het ek gebou

21

en die ark waarin die verbond van die Here is wat Hy met ons voorvaders gesluit het toe Hy hulle uit Egipte gebring het, het ek daar gesit.”

22

Toe gaan staan Salomo regoor die altaar van die Here, voor die hele gemeente van Israel, en strek sy hande uit na die hemel toe

23

en sê: “Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog 'n God soos U nie. U hou U aan die verbond en U bly getrou teenoor u dienaars wat met volle oorgawe voor U lewe.

24

U het U gehou aan wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het. U het die belofte gemaak en dit so soos dit vandag is, deur u woord en u mag vervul.

25

“Here, God van Israel, bly dan nou by wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het toe U gesê het: ‘Ek sal sorg dat daar altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel sal wees, mits jou nakomelinge let op hulle optrede en volgens my woord lewe, soos jy gemaak het.’

26

“God van Israel, laat die belofte wat U aan u dienaar, my vader Dawid, gemaak het, ook verder vas staan.

27

“Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!

28

“Hoor tog, Here my God, die gebed van u dienaar, hoor sy smeking, luister na die hulpgeroep, die gebed wat u dienaar vandag tot U rig.

29

Hou hierdie tempel dag en nag onder u sorg, die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U die gebed kan hoor wat 'n dienaar van U na hierdie plek toe bid.

30

Hoor tog die smeekbedes van u dienaar en u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe bid, hoor dit tog uit u hemelse woonplek, en wanneer U dit hoor, vergewe tog!

31

“As iemand sy naaste kwaad aandoen en dié hom 'n eedverpligting oplê om hom onder 'n vloek te plaas, en hy kom en spreek die eed uit voor u altaar in hierdie tempel,

32

luister tog uit die hemel en gryp in en vel die beslissing oor u dienaars sodat die skuldige die straf vir sy dade dra en die onskuldige gelyk gegee word soos dit by sy onskuld pas.

33

“As u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het en hulle kom tot inkeer en bely u Naam en bid tot U in hierdie huis en smeek U,

34

luister tog uit die hemel en vergeef u volk Israel se sonde en laat hulle terugkom na die land wat U aan hulle voorvaders gegee het.

35

“Wanneer die hemele toegesluit bly en daar nie reën is nie omdat hulle teen U sondig, en hulle bid na hierdie plek toe en bely u Naam terwyl hulle hulle van hulle sonde bekeer en vra dat U hulle gebed sal verhoor,

36

luister tog uit die hemel en vergeef u dienaars en u volk Israel se sonde en gee reën op u land wat U aan u volk as besitting gegee het. So leer U hulle die goeie weg wat hulle moet bewandel.

37

“Sou daar hongersnood in die land kom, sou daar pes uitbreek, brandkoring of roes, swerms sprinkane en voetgangers, sou dit gebeur dat die volk se vyande hom in sy stede hier in die land beleër, watter plaag of siekte hom ook al tref,

38

luister tog na elke gebed, elke smeking wat van enige mens of van u hele volk Israel mag kom soos elkeen sy plaag te kenne gee en sy hande na hierdie tempel toe uitstrek;

39

luister tog uit die hemel, u woonplek, vergeef en gryp in en gee aan elkeen wat hy verdien soos U sy hart ken, want net U ken elke mens se hart,

40

sodat hulle aan U gehoorsaam sal wees die hele tyd dat hulle in die land leef wat U aan ons voorvaders gegee het.

41-42

“Luister ook na die vreemdeling wat nie uit u volk Israel is nie en, omdat hy gehoor het van u groot Naam, u mag en krag, selfs uit 'n ver land kom en na hierdie tempel toe bid.

43

Luister tog uit die hemel, u woonplek, en doen alles wat die vreemdeling U in sy gebed vra, sodat al die volke van die aarde u Naam kan ken en ook aan U gehoorsaam kan wees net soos u volk Israel, en dat hulle kan weet u Naam is uitgeroep oor hierdie tempel wat ek gebou het.

44

“Sou u volk teen sy vyande uittrek in 'n oorlog wat deur U beveel is, en hulle bid tot U, die Here, in die rigting van hierdie stad wat U gekies het en die huis wat ek vir u Naam gebou het,

45

luister tog uit die hemel na hulle gebed en hulle smeking en gee hulle die oorwinning.

46

“Sou hulle teen U sondig, want daar is nie 'n mens wat nie sondig nie, en U in u verontwaardiging hulle aan 'n vyand oorgee, sodat hulle as gevangenes weggevoer word na die vyand se land toe, ver of naby,

47

en hulle daar in dié land waar hulle gevangenes is, tot inkeer kom en hulle weer tot U wend en U daar in die land van hulle gevangenskap smekend aanroep: ‘Ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig,’

48

en hulle tot U wend met hart en siel in die land van hulle vyande wat hulle gevange hou, en hulle bid tot U in die rigting van hulle land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van die stad wat deur U gekies is en die tempel wat ek vir u Naam gebou het,

49

luister tog uit die hemel, uit u woonplek, na hulle gebed en smeking en neem hulle straf weg

50

en vergeef u volk wat teen U gesondig het, vergeef hulle al hulle opstandigheid teen U en laat dié wat hulle gevange hou, met hulle medelye hê,

51

want hulle is u eie volk, U het hulle uitgelei uit Egipte, uit die smeltoond uit.

52

“Wees tog ontvanklik vir die smeking van u dienaar en u volk Israel, verhoor tog elke gebed wat hulle tot U rig.

53

U het hulle onder al die volke van die wêreld afgesonder as 'n volk vir U, Here. Dit het gebeur soos U, Here, deur u dienaar Moses gesê het toe U ons voorvaders uit Egipte gebring het.”

54

Nadat Salomo klaar hierdie gebed en smeking tot die Here gerig het, het hy opgestaan van waar hy voor die altaar van die Here gekniel het met sy hande uitgestrek na die hemel toe.

55

Hy het gaan staan en die hele gemeente van Israel hardop geseën:

56

“Geloof sy die Here wat aan sy volk Israel 'n vaste woonplek gegee het soos Hy beloof het. Nie een van die goeie beloftes wat Hy deur sy dienaar Moses gemaak het, het onvervul gebly nie.

57

Mag die Here ons God by ons wees soos Hy by ons voorvaders was. Mag Hy ons nooit verlaat of laat vaar nie.

58

Mag Hy ons gewillig maak om altyd volgens sy wil te leef en ons te hou aan sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat Hy ons voorvaders opgelê het.

59

Mag hierdie woorde van my wat ek in my smeking voor die Here uitgespreek het, dag en nag by Hom, die Here ons God, wees, sodat Hy die reg van sy dienaar en van sy volk Israel sal handhaaf soos dit van dag tot dag nodig mag wees.

60

Dan sal al die volke van die wêreld besef die Here is God; daar is nie 'n ander nie.

61

Mag julle met volle oorgawe voor die Here ons God leef volgens sy voorskrifte en julle hou aan sy gebooie, so soos dit vandag is.”

62

Die koning en die hele Israel het vir die Here offerandes gebring.

63

Salomo het twee en twintig duisend beeste en honderd en twintig duisend stuks kleinvee as maaltydoffer geoffer. So het die koning en al die Israeliete die huis van die Here ingewy.

64

Daardie dag het die koning die middelgedeelte van die voorhof wat reg voor die huis van die Here is, gewy, want daar het hy die brandoffer en die graanoffer en die vetgedeeltes van die maaltydoffers verbrand. Die bronsaltaar wat voor die tempel van die Here gestaan het, was te klein vir die brandoffer en die graanoffer en die vetgedeeltes.

65

Salomo, en die hele Israel saam met hom wat gekom het van Lebo-Hamat af tot by Egiptespruit, 'n groot gemeente, het destyds sewe dae lank fees gehou ter ere van die Here ons God, en daarna weer sewe dae, veertien dae altesaam.

66

Die dag daarna het Salomo die volk laat gaan. Hulle het hom gegroet en is terug huis toe, bly en gelukkig oor die goeie dinge wat die Here gedoen het aan sy dienaar Dawid en sy volk Israel.