| Vers nr. | Vers | Voetnota |
|---|---|---|
| 1 | 'n Wyse seun laat hom leer deur sy vader, 'n ligsinnige slaan nie eens op dreigemente ag nie. | |
| 2 | 'n Mens kan voorspoedig word deur altyd die regte woorde te gebruik; onbetroubare mense is net uit op geweld. | |
| 3 | Wie sy mond in bedwang hou, behou sy lewe; wie sy mond nie kan hou nie, gaan sy ondergang tegemoet. | |
| 4 | Die luiaard se honger word nie gestil nie; hardwerkende mense het meer as genoeg om te eet. | |
| 5 | Die regverdige haat leuens; die goddelose maak hom gehaat en veragtelik. | |
| 6 | Die opregte bly behoue deur sy gehoorsaamheid aan die Here; ongehoorsaamheid laat die sondaar te gronde gaan. | |
| 7 | Party mense hou hulle ryk maar het niks nie; party doen hulle arm voor maar besit baie. | |
| 8 | Met sy rykdom moet 'n ryk man hom soms loskoop; 'n arm man kom nie in so 'n gevaar nie. | |
| 9 | Die lewe van die regverdiges is vol vreugde; die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof. | |
| 10 | Selfverheffing lei altyd tot twis; dié wat goeie raad aanneem, het wysheid. | |
| 11 | Rykdom wat sommerso gekom het, verminder maklik; wie bietjie vir bietjie bymekaarmaak, word ryk. | |
| 12 | 'n Verwagting wat nie uitkom nie, maak 'n mens mismoedig; 'n begeerte wat vervul word, bring nuwe lewe. | |
| 13 | Wie hom nie aan die woorde van die Here steur nie, sal die gevolge dra; wie eerbied het vir sy gebooie, sal die goeie vrugte pluk. | |
| 14 | Wat wyse mense jou leer, is 'n bron van lewe; dit laat jou die strikke van die dood vermy. | |
| 15 | Iemand wat goeie insig het, geniet goedgesindheid; die pad van onbetroubare mense lei tot vernietiging. | |
| 16 | Alles wat 'n verstandige mens doen, word met kennis gedoen; wie nie wysheid het nie, begaan een dwaasheid na die ander. | |
| 17 | 'n Onbetroubare boodskapper kom in die moeilikheid; 'n gesant op wie jy kan staatmaak, stel sake weer reg. | |
| 18 | Armoede en vernedering wag vir iemand wat hom nie wil laat leer nie, wie 'n teregwysing ter harte neem, word geëer. | |
| 19 | 'n Begeerte wat vervul is, bring vreugde. Dwase het 'n afkeer daarvan om kwaad te vermy. | |
| 20 | Wie met wyse mense omgaan, kry self wysheid; wie hom met dwase ophou, word self sleg. | |
| 21 | Teenspoed volg die sondaars op hulle pad; die regverdige word met voorspoed vergoed. | |
| 22 | 'n Goeie mens laat 'n erfenis na ook vir sy kleinkinders; die besittings van die sondaar kom in die hande van die regverdige. | |
| 23 | Grond wat die eerste keer geploeg is, lewer genoeg kos vir die armes, maar waar daar nie wet en orde is nie, word die kos van hulle af weggevat. | |
| 24 | Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie; as hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is. | |
| 25 | Die regverdige het meer as genoeg om te eet; goddelose mense bly honger. |
Ontwikkel deur