Skip to : [Content] [Navigation]

Kopiereg van die Bybelteks - © Bybelgenootskap van Suid Afrika

Vers nr. Vers Voetnota
1

Elia die Tisbiet was 'n bywoner uit Gilead. Hy het vir Agab gesê: “So seker as die Here leef, die God van Israel in wie se diens ek staan, daar sal die volgende paar jaar geen dou of reën val nie, behalwe as ek so sê.”

2

Die woord van die Here het tot Elia gekom en gesê:

3

“Gaan hiervandaan af ooswaarts en gaan versteek jou in Kritspruit, anderkant die Jordaan.

4

Jy kan water uit die spruit drink, en Ek het die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.”

5

Hy het gedoen soos die Here aan hom opgedra het. Hy het daar in Kritspruit gaan bly, anderkant die Jordaan.

6

Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink.

7

Uiteindelik het die spruit opgedroog omdat die land nie reën gekry het nie.

8

Toe het die woord van die Here weer tot Elia gekom en gesê:

9

“Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het 'n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.”

10

Hy gaan toe na Sarfat toe, en toe hy by die poort van die stad kom, was daar 'n weduwee net besig om houtjies op te tel. Hy vra haar toe: “Gee my asseblief 'n bekertjie water om te drink.”

11

Terwyl sy dit gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring vir my asseblief 'n stukkie brood saam.”

12

Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net 'n handvol meel in die kruik en 'n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar 'n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.”

13

Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my 'n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg.

14

So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”

15

Sy gaan maak toe soos Elia gevra het. Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin.

16

Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het.

17

In dié tyd het die vrou, die eienares van die huis, se seuntjie siek geword. Hy het al hoe sieker geword totdat hy die laaste asem uitgeblaas het.

18

Toe sê sy vir Elia: “Kyk wat het u my aangedoen, man van God! Het u na my toe gekom om my sonde aan die lig te bring en my seuntjie daarom te laat doodgaan?”

19

Hy sê vir haar: “Gee jou kind hier,” en hy tel hom van haar skoot af op. Toe dra hy hom na die bokamer toe waar hy tuis gegaan het en lê hom op die bed neer

20

en bid tot die Here: “Here my God, wil U nou oor hierdie weduwee by wie ek bly, 'n ramp bring deur haar kind te laat sterf?”

21

Toe gaan lê hy drie maal bo-oor die kind en smeek die Here: “Here my God, laat die lewe tog terugkom in die kind.”

22

Die Here het Elia se gebed verhoor: die lewe het teruggekom, die kind het gelewe.

23

Toe bring Elia die kind van die bokamer af ondertoe en gee hom vir sy ma en sê: “Kyk! Jou seuntjie leef!”

24

Die vrou sê toe vir Elia: “Nou weet ek dat u 'n man van God is, en dat wat die Here deur u sê, die waarheid is.”