Skip to : [Content] [Navigation]

Kopiereg van die Bybelteks - © Bybelgenootskap van Suid Afrika

Vers nr. Vers Voetnota
1

In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik optrek om oorlog te maak, het Dawid op 'n keer vir Joab en sy soldate en die hele Israel uitgestuur. Hulle het die Ammoniete verslaan en Rabba beleër, maar Dawid het in Jerusalem agtergebly.

2

Eendag het hy na sy middagslapie opgestaan en op die dak van die paleis gaan rondstap. Van die dak af het hy 'n vrou sien bad. Sy was 'n baie mooi vrou.

3

Dawid het oor haar laat navraag doen, en iemand het gesê: “Dit is Batseba dogter van Eliam, die vrou van Urija die Hetiet.”

4

Dawid het toe amptenare gestuur en haar laat haal. Dit was nadat sy haar reinigingsbad geneem het na haar maandstonde. Sy het na hom toe gekom, en hy het by haar geslaap. Daarna is sy terug huis toe.

5

Die vrou het swanger geword en vir Dawid laat weet: “Ek is swanger.”

6

Dawid het op sy beurt 'n boodskap na Joab toe gestuur: “Stuur vir Urija die Hetiet hiernatoe.” Joab het hom na Dawid toe gestuur.

7

Urija het by hom gekom, en Dawid het hom gevra hoe gaan dit met Joab en die leër, en hoe vorder die oorlog.

8

Hierna het Dawid vir Urija gesê: “Gaan nou maar huis toe en rus 'n bietjie.” Toe Urija uit die paleis gaan, het die koning ook nog 'n geskenk agter hom aangestuur.

9

Maar Urija wou nie huis toe gaan nie en het by die paleisdeur gaan slaap saam met die slawe van die koning.

10

Hulle het vir Dawid gaan sê: “Urija was nie huis toe nie.” Dawid vra toe vir Urija: “Jy was mos lank weg, waarom gaan jy nie huis toe nie?”

11

Sy antwoord was: “Sou ek huis toe gaan om te eet en fees te vier en by my vrou te slaap, terwyl die ark en Israel saam met Juda in hutte woon en my aanvoerder Joab sowel as u soldate in die oop veld kamp opslaan? Dit sal ek beslis nooit doen nie!”

12

Dawid het Urija toe beveel: “Bly vandag nog hier! Môre stuur ek jou terug.” Urija het daardie dag en die dag daarna in Jerusalem vertoef.

13

Toe het Dawid hom geroep en saam met hom geëet en gedrink. Hy het hom selfs dronk gemaak. Maar die aand het Urija uitgegaan om op sy gewone plek saam met die slawe van die koning te gaan slaap. Hy het nie huis toe gegaan nie.

14

Die volgende oggend het Dawid 'n brief aan Joab geskryf en saam met Urija gestuur.

15

In dié brief het hy geskryf: “Gee tog aan Urija 'n plek op die voorpunt waar die geveg kwaai is. Val dan terug sodat hy in die slag kan bly en sneuwel.”

16

Terwyl Joab die stad beleër, het hy Urija op 'n plek gesit waar hy geweet het daar is dapper teenstanders.

17

Die burgers van die stad het uitgekom en teen Joab geveg. Daar het van Dawid se soldate gesneuwel, en Urija die Hetiet het ook omgekom.

18

Joab het Dawid laat inlig oor die verloop van die geveg.

19

Hy het die boodskapper beveel: “As jy vir die koning die verloop van die geveg klaar vertel het

20

en net as hy begin kwaad word en jou vra: ‘Waarom het julle so naby die stad gaan veg? Het julle nie gedink aan die mense wat bo van die muur af skiet nie?

21

Wie het vir Abimelek seun van Jerubbeset doodgemaak? Is dit nie 'n vrou wat 'n maalklip bo van die muur af op hom gegooi het, sodat hy in Tebes gesterf het nie? Waarom het julle so naby die muur gekom?’ dan moet jy sê: Ook u manskap Urija die Hetiet het gesneuwel.”

11:21: Die naam Jerubbeset hou verband met die Hebreeuse woorde vir “saak behartig” en “skande” en is 'n doelbewuste verandering van die naam Jerubbaäl, vgl. Rig. 6:32.
22

Die boodskapper het vir Dawid alles gaan vertel wat Joab hom beveel het.

23

Hy het vir Dawid gesê: “Die vyand het dapper teen ons geveg. Hulle het tot in die oop veld na ons toe uitgekom en toe ons hulle tot by die stadspoort terugdruk,

24

het die boogskutters bo van die muur af u manskappe begin raakskiet. So het party van die koning se soldate gesneuwel, en ook Urija die Hetiet het so gesterf.”

25

Dawid het die boodskapper beveel: “Sê vir Joab: ‘Jy moet jou dit nie te veel aantrek nie. Dit gebeur nou maar eenmaal so dat mense sneuwel. Veg dapper in jou stryd teen die stad en verwoes dit.’ En praat hom moed in.”

26

Urija se vrou het gehoor dat haar man dood is en sy het oor hom getreur.

27

Toe die routyd oor was, het Dawid haar na sy huis toe laat haal. Sy het sy vrou geword en vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.