Skip to : [Content] [Navigation]

Kopiereg van die Bybelteks - © Bybelgenootskap van Suid Afrika

Vers nr. Vers Voetnota
1

Wat moet ons nou sê was die geval met ons stamvader Abraham?

2

As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy 'n rede gehad om te roem. Maar nie by God nie!

3

Wat sê die Skrif? “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.”

4:3: Vgl. Gen. 15:6.
4

'n Arbeider se loon word nie vir hom as 'n guns gegee nie, maar as iets wat hom toekom.

5

Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof.

6

So sê ook Dawid dat dié mens geseënd is wat deur God vrygespreek word buite wetsonderhouding om:

7

“Geseënd is die mense wie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word.

8

Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie.”

4:8: Vgl. Ps. 32:1-2.
9

Het hierdie uitspraak oor wie geseënd is, net betrekking op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Ons sê weer: “Deurdat Abraham geglo het, het God hom vrygespreek.”

10

Wanneer het dit gebeur? Toe hy reeds besny was of toe hy nog onbesnede was? Dit was nie toe hy besnede was nie, maar toe hy nog onbesnede was.

11

Hy het die besnydenis as 'n teken ontvang. Dit is 'n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het deurdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Die doel daarmee was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek deurdat hulle glo.

12

Ons voorvader Abraham sou ook die vader wees van dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo, soos hy geglo het toe hy nog onbesnede was.

13

Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het.

14

As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag.

15

Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie 'n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie.

16

Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal,

17

soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord.

4:17: Gen. 17:5.
18

Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.”

4:18: Vgl. Gen. 15:5.
19

Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie.

20

Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee.

21

Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.

22

Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.

23

Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie,

24

maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het.

25

Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.