Skip to : [Content] [Navigation]

Kopiereg van die Bybelteks - © Bybelgenootskap van Suid Afrika

Vers nr. Vers Voetnota
1

Nadat ons swaar van hulle afskeid geneem het, het ons aan boord gegaan. Ons het reguit koers gehou en by die eiland Kos aangekom. Die volgende dag het ons Rodos bereik en daarvandaan by Patara aangekom.

2

Daar het ons 'n skip gekry wat na Fenisië toe sou vaar, en ons het aan boord gegaan en weggevaar.

3

Ons het Siprus in sig gekry en is aan die suidekant daarvan verby Sirië toe. In Tirus, waar die skip sy vrag moes aflaai, het ons afgeklim.

4

Ons het die gelowiges daar opgesoek en sewe dae by hulle gebly. Deur die Gees gelei, het hulle vir Paulus gesê om nie Jerusalem toe te gaan nie.

5

Maar toe die sewe dae verby was, het ons verder gereis, en hulle is almal met hulle vrouens en kinders saam met ons tot buitekant die stad. Ons het op die strand gekniel en gebid

6

en van mekaar afskeid geneem. Daarna het ons aan boord gegaan, en hulle het omgedraai huis toe.

7

Van Tirus af het ons die seereis voortgesit na Ptolemaïs toe. Daar het ons die gelowiges gegroet en 'n dag by hulle gebly.

8

Die volgende dag het ons vertrek en in Sesarea aangekom. Ons het die evangelis Filippus, een van die sewe , opgesoek en by hom tuis gegaan.

21:8: Vgl. Hand. 6:5.
9

Hy het vier ongetroude dogters gehad wat die gawe besit het om te profeteer.

10

Nadat ons reeds 'n hele paar dae daar was, het daar 'n profeet met die naam Agabus van Judea af aangekom.

11

Hy het na ons toe gekom, Paulus se gordel gevat, sy eie hande en voete daarmee vasgebind en gesê: “So sê die Heilige Gees: Die Jode sal in Jerusalem die eienaar van hierdie gordel net so vasbind en hom aan die heidene uitlewer.”

12

Toe ons dit hoor, het ons en die mense daar vir Paulus gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie.

13

Toe antwoord Paulus: “Waarom wil julle my hart sag maak met julle trane? Ter wille van die Naam van die Here Jesus is ek bereid om in Jerusalem nie net gevange geneem te word nie, maar selfs ook te sterwe.”

14

Toe ons hom nie kon oorreed nie, het ons daarin berus en gesê: “Laat die wil van die Here geskied.”

15

Na 'n paar dae het ons ons voorbereidings afgehandel en na Jerusalem toe vertrek.

16

Party van die gelowiges het van Sesarea af saam met ons gegaan. Hulle het ons by Mnason gebring, wat oorspronklik van Siprus afkomstig was en wat van vroeg af reeds 'n gelowige was. By hom sou ons tuis gaan.

17

By ons aankoms in Jerusalem het die broers ons hartlik ontvang.

18

Die volgende dag het ons saam met Paulus na Jakobus toe gegaan. Al die ouderlinge was daar teenwoordig.

19

Paulus het hulle gegroet en in besonderhede vertel wat God deur sy diens onder die heidene gedoen het.

20

Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys en vir Paulus gesê: “Jy sien, broer, hier is duisende Jode wat gelowig geword het, maar almal onderhou die wet van Moses nog stiptelik.

21

Hulle het gehoor dat jy al die Jode wat onder die heidene woon, leer om van die wet van Moses af te sien. Jy sou hulle geleer het om nie meer hulle kinders te laat besny nie en om nie die Joodse gebruike te onderhou nie.

22

“Wat moet ons nou doen? Hulle sal beslis te hore kom dat jy hier is.

23

Maak nou soos ons vir jou sê. Hier by ons is daar vier mans wat 'n gelofte afgelê het.

24

Neem hulle saam met jou vir die reinigingshandeling en betaal die koste daarvan, sodat hulle hulle hare kan laat afsny. Dan sal almal weet dat nie een van die gerugte wat oor jou versprei word, waar is nie, maar dat jy self die wet onderhou.

25

Ons het tog al vir die gelowiges wat vroeër heidene was, laat weet van ons besluit dat hulle nie vleis wat aan 'n afgod geoffer is, en bloed en 'n dier wat verwurg is, moet eet nie, en dat hulle onsedelikheid moet vermy.”

26

Die volgende dag het Paulus die manne geneem en die reinigingshandeling saam met hulle verrig. Hy het tempel toe gegaan en kennis gegee op watter dag die reiniging verby sou wees, wanneer die offer vir elkeen van hulle gebring sou word.

27

Toe die sewe dae van die reiniging byna om was, het Jode van die provinsie Asië vir Paulus by die tempel gesien. Hulle het die hele skare aangehits en vir Paulus gegryp.

28

“Israeliete, kom help!” het hulle geskreeu. “Hier is die man wat ons volk, die wet van Moses en die tempel oral aanval. Nou het hy boonop nog Grieke in die tempel ingebring en hierdie heilige plek ontheilig.”

29

Hulle het dit gesê omdat hulle vantevore vir Trofimus van Efese saam met Paulus in die stad gesien het en gedink het dat Paulus hom in die tempel in geneem het.

30

Die hele stad het in beroering gekom. Die mense het saamgedrom, vir Paulus gegryp en hom uit die tempel uitgesleep. Die deure is dadelik agter hulle toegesluit.

31

Die mense wou hom net doodmaak. 'n Boodskap is toe na die kommandant van die Romeinse garnisoen toe gestuur dat die hele Jerusalem in oproer is.

32

Hy het onmiddellik met soldate en offisiere na die oproer toe gehardloop. Toe die skare die kommandant en sy soldate sien, het hulle opgehou om vir Paulus te slaan.

33

Die kommandant het na Paulus toe gegaan, hom gevange geneem en beveel dat hy met twee kettings geboei moet word. Daarna het hy probeer vasstel wie die man is en wat hy gedoen het.

34

Die skare het so deurmekaar geskreeu dat hy in die lawaai nie kon uitvind wat presies aan die gang is nie. Hy het toe beveel dat Paulus na die kaserne toe gevat moet word.

35

By die trap van die kaserne het die gepeupel so saamgedrom dat die soldate Paulus moes dra,

36

want al die mense het agterna geloop en geskreeu: “Weg met hom!”

37

Net voor hulle Paulus die kaserne wou inbring, sê hy vir die kommandant: “Mag ek u iets vra?” Daarop sê die kommandant: “Ken jy Grieks?

38

Dan is jy nie die Egiptenaar wat 'n rukkie gelede in opstand gekom en met vier duisend terroriste die woestyn in getrek het nie?”

39

Daarop antwoord Paulus hom: “Ek is 'n Jood van Tarsus in Silisië, 'n burger van 'n belangrike stad. Laat my asseblief toe om die volk toe te spreek.”

40

Die kommandant het ingewillig, en Paulus het op die trap gaan staan en met sy hand vir die mense gewys om stil te bly. Toe dit baie stil geword het, het hy hulle in Hebreeus toegespreek.