Skip to : [Content] [Navigation]

Kopiereg van die Bybelteks - © Bybelgenootskap van Suid Afrika

Vers nr. Vers Voetnota
1

Die Filistyne het hulle krygsmag opgeroep. Hulle het bymekaargekom in Soko wat aan Juda behoort, en het kamp opgeslaan in Efes-Dammim tussen Soko en Aseka.

2

Saul en die manskappe van Israel het bymekaargekom en kamp opgeslaan in die laagte by die groot boom en teenoor die Filistyne stelling ingeneem om te veg.

3

Die Filistyne het teen die een rant gestaan, en die Israeliete teen die ander, met 'n smal vallei tussen hulle.

4

Toe kom daar 'n baasvegter uit die laer van die Filistyne uit. Sy naam was Goliat en hy was afkomstig uit Gat. Hy was drie meter lank.

5

Daar was 'n bronshelm op sy kop, en hy het 'n harnas met skubbe aangehad. Die gewig van die harnas was sewe en vyftig kilogram.

6

Daar was bronsskerms voor sy bene en tussen sy wapens was daar 'n bronsswaard.

7

Die steel van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van 'n weefstoel, en die ysterlem daarvan was sewe kilogram. Sy skilddraer het voor hom uit geloop.

8

Goliat het gaan staan en na die linies van Israel geroep. Hy het vir hulle gesê: “Waarom het julle uitgekom om gevegslinies op te stel? Is ek nie 'n Filistyn en julle almal Saul se slawe nie? Kies vir julle iemand om na my toe uit te kom.

9

As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees. As ek hom baasraak en verslaan, sal julle ons slawe wees en vir ons werk.”

10

Verder het die Filistyn nog gesê: “Ek staan die linies van Israel al heeldag en verkleineer! Gee my tog iemand dat ons teen mekaar kan veg.”

11

Toe Saul en die hele Israel hoor wat die Filistyn sê, het hulle geskrik en baie bang geword.

12

Dawid was die seun van 'n Efratiet, iemand uit Betlehem in Juda met die naam Isai. Hy het ag seuns gehad. In die tyd van Saul was hierdie man al oud en afgeleef.

13

Die drie oudste seuns van Isai het Saul na die oorlog toe gevolg. Die name van die drie seuns wat gaan veg het, was Eliab die oudste, Abinadab die tweede, en Samma die derde.

14

Dawid was die jongste. Die drie oudstes het pal met Saul saamgegaan,

15

maar Dawid het om die beurt na Saul toe gegaan en dan weer sy pa se kleinvee in Betlehem gaan oppas.

16

Die Filistyn het veertig dae lank vroeg in die môre en teen die aand nader gekom en regoor die Israeliete gaan staan.

17

Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Vat tog vir jou broers sestien kilogram gebraaide koring en tien brode en bring dit gou vir hulle in die kamp.

18

Die tien kase moet jy na die aanvoerder van die afdeling toe vat. Dan moet jy sommer kyk of dit nog goed gaan met jou broers, en 'n bewys daarvan saambring.

19

Saul en jou broers en die hele Israel is in die laagte by die groot boom aan die veg teen die Filistyne.”

20

Dawid het die môre vroeg opgestaan, die kleinvee aan die wagter afgegee, die goed opgetel en gegaan soos Isai hom beveel het. Net toe hy by die kamp aankom, het die leër wat na die gevegslinie toe uitgaan, die oorlogskreet aangehef.

21

Israel en die Filistyne het naamlik in linies teenoor mekaar stelling ingeneem.

22

Dawid het die pak wat hy gedra het, onder die sorg gelaat van die man wat die goed oppas, en na die linies toe gehardloop. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers hoe dit gaan,

23

en terwyl hy nog met hulle praat, kom die baasvegter Goliat die Filistyn uit Gat juis uit die linies van die Filistyne vorentoe en hy praat weer so. Dawid het dit gehoor.

24

Toe die Israeliete die man sien, het hulle almal vir hom gevlug en hulle was baie bang.

25

'n Israeliet sê toe: “Julle sien hierdie man wat vorentoe kom? Hy kom net om Israel te verkleineer. Die man wat hom verslaan – die koning sal daardie man baie ryk maak en sy dogter aan hom gee, en die man se familie sal in Israel van alle verpligtinge vrygestel wees.”

26

Dawid het vir die manskappe wat by hom staan, gevra: “Wat sal gebeur met die man wat die skande van Israel wegneem en die Filistyn daar anderkant verslaan? Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?”

27

Die manskappe het dieselfde vir hom gesê: “So sal gedoen word aan die man deur wie die Filistyn verslaan word.”

28

Dawid se oudste broer Eliab het gehoor wat hy met die manskappe praat en Eliab het hom vir Dawid vererg en gesê: “Waarom het jy hierheen gekom en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die droëveld afgegee? Ek ken jou vermetelheid en kwaadwilligheid. Het jy net hierheen gekom om na die geveg te kyk?”

29

Toe sê Dawid: “Wat het ek nou gedoen? Is dit dan nie 'n belangrike saak nie?”

30

Dawid het van hom af weggedraai na 'n ander een toe en dieselfde gevra, en die manskap het geantwoord soos die eerste.

31

Die woorde wat Dawid gesê het, het rugbaar geword. Die manskappe het dit vir Saul vertel, en hy het hom laat haal.

32

“'n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie,” sê Dawid toe vir Saul. “Ek sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.”

33

Maar Saul sê vir Dawid: “Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is jonk en hy 'n vegter van kindsbeen af.”

34

Toe sê Dawid vir Saul: “As ek die kleinvee vir my pa oppas, en daar kom 'n leeu of 'n beer en dra 'n lam weg uit die kudde,

35

gaan ek agter hom aan en slaan hom dood en red die lam uit sy bek; as hy op my afstorm, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood.

36

Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan, en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle word, want hy het die linies van die lewende God verkleineer.”

37

Verder het Dawid gesê: “Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn.” Toe sê Saul vir Dawid: “Gaan, en mag die Here by jou wees.”

38

Saul het sy eie uitrusting vir Dawid laat aantrek: hy het 'n bronshelm op sy kop gesit en hom 'n harnas laat aantrek,

39

en Dawid het Saul se swaard bo-oor sy uitrusting vasgegord. Maar hy kon nie loop nie, want hy was dit nie gewoond nie. Dawid sê toe vir Saul: “Ek kan nie hiermee loop nie, want ek is dit nie gewoond nie.” En Dawid het dit uitgetrek.

40

Hy het sy kierie in sy hand gevat, vyf gladde klippies in die spruit uitgesoek en dit by sy skaapwagtersgoed in sy slingersak gesit. En met sy slingervel in die hand het hy op die Filistyn af geloop.

41

Die Filistyn het al hoe nader gekom na Dawid toe, terwyl sy skilddraer voor hom was.

42

Toe hy vir Dawid sien, het die Filistyn hom met minagting aangekyk omdat hy jonk was, met 'n rooi gelaatskleur en 'n mooi voorkoms.

43

Die Filistyn het vir Dawid gesê: “Is ek 'n hond dat jy met kieries na my toe kom?” Hy het Dawid toe in die naam van die Filistynse gode vervloek.

44

Verder het die Filistyn vir Dawid gesê: “Kom 'n bietjie hier dat ek jou vleis vir die roofvoëls en vir die wilde diere kan gee.”

45

Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met 'n dolk en 'n spies en 'n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het.

46

Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee, sodat die hele wêreld kan besef dat Israel 'n God het.

47

Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee.”

48

Toe die Filistyn regmaak en nader kom om Dawid te ontmoet, het Dawid die Filistyn vinnig op die vegterrein tegemoet gehardloop.

49

Toe steek Dawid sy hand in die sak, vat 'n klip daaruit, gooi met die slingervel, en tref die Filistyn teen die voorkop. Die klip het in sy voorkop ingedring, en hy het vooroor geval op die grond.

50

Met die slingervel en klip was Dawid sterker as die Filistyn en het hy hom verslaan en doodgemaak. Dawid het nie eens 'n swaard by hom gehad nie!

51

Toe het Dawid gehardloop, by die Filistyn gaan staan, sy swaard gevat, dit uit die skede getrek en hom van kant gemaak: hy het sy kop daarmee afgekap. Die Filistyne het gesien dat hulle held dood is, en het gevlug.

52

Die manskappe van Israel en Juda het opgestaan, die aanvalskreet uitgeskreeu en die Filistyne agtervolg tot by die ingang van Gat en die poorte van Ekron, sodat die gesneuweldes van die Filistyne op die pad van Saärajim af tot by Gat en Ekron gelê het.

53

Daarna het die Israeliete teruggekom van die strawwe agtervolging van die Filistyne af en hulle kamp geplunder.

54

Dawid het die kop van die Filistyn gevat en dit na Jerusalem toe gebring, maar die Filistyn se wapens het hy in sy eie tent gaan sit.

55

Toe Saul vir Dawid sien uitgaan om die Filistyn te ontmoet, het hy vir Abner die hoof van die leër gevra: “Abner, wie se kind is dié jong man tog?” Abner het geantwoord: “So seker as u leef, U Majesteit, ek weet nie.”

56

Die koning sê toe: “Vra jy tog wie se kind die jong man is.”

57

Toe Dawid terugkom nadat hy die Filistyn verslaan het, het Abner hom gevat en voor Saul gebring met die kop van die Filistyn nog in sy hand.

58

Saul het vir hom gevra: “Seun, wie se kind is jy?” “Die kind van u onderdaan Isai, uit Betlehem,” het Dawid geantwoord.