Skip to : [Content] [Navigation]

Kopiereg van die Bybelteks - © Bybelgenootskap van Suid Afrika

Vers nr. Vers Voetnota
1

Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai gekom:

2

“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.”

3

Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy 'n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af.

4

Maar die Here het 'n kwaai storm oor die see laat opkom. Daar was 'n baie sterk wind op die see, en die skip wou uitmekaar breek.

5

Die matrose het bang geword, en elkeen het tot sy god om hulp geroep. Hulle het die vrag van die skip in die see gegooi om die skip ligter te maak. Maar Jona was onder in die skip waarheen hy afgegaan het om te gaan slaap. Hy het vas geslaap

6

en die kaptein het na hom toe gegaan en vir hom gesê: “Wat is dit met jou dat jy lê en slaap? Staan op en bid tot jou god. Miskien sal hy aan ons dink en dan sal ons nie vergaan nie.”

7

Toe sê die manne vir mekaar: “Kom ons trek lootjies sodat ons kan uitvind oor wie hierdie ramp ons tref.” Hulle het lootjies getrek en Jona is aangewys.

8

Toe vra hulle hom: “Vertel ons tog waarom hierdie ramp ons tref. Wat werk jy? Waarvandaan kom jy? Uit watter land en van watter volk is jy?”

9

Jona het hulle geantwoord: “Ek is 'n Hebreër. Ek dien die Here die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.”

10

Die manne het baie bang geword en vir Jona gesê: “Wat het jy nou aangevang?” Hulle het te wete gekom dat hy van die Here af wegvlug: Jona het hulle dit self vertel.

11

Toe vra hulle hom: “Wat moet ons met jou maak dat die see weer rondom ons kan kalm word?” Die see het ondertussen al hoe onstuimiger geword.

12

Jona het hulle geantwoord: “Vat my en gooi my in die see, dan sal dit kalm word rondom julle, want ek weet dit is oor my dat hierdie groot storm rondom julle woed.”

13

Die manne het hard geroei om weer die vasteland te bereik, maar hulle kon nie, want die see het al hoe onstuimiger geword rondom hulle.

14

Toe bid hulle tot die Here en sê: “Ag, Here, moet ons tog nie laat vergaan oor hierdie man nie. Moenie dat ons iemand onskuldig doodmaak nie. U is die Here, U doen wat U wil.”

15

Hulle vat toe vir Jona en gooi hom in die see. Die storm op die see het toe bedaar.

16

Die manne het toe baie bang geword vir die Here en hulle het vir Hom 'n offer gebring en geloftes afgelê.

17

Toe stuur die Here 'n groot vis om vir Jona in te sluk, en hy was drie dae en nagte in die vis se maag.