| Vers nr. | Vers | Voetnota |
|---|---|---|
| 1 | Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie! | Vgl. Ps. 136 |
| 2 | Israel moet getuig: "Aan sy liefde is daar geen einde nie." | |
| 3 | Die huis van Aäron moet getuig: "Aan sy liefde is daar geen einde nie." | |
| 4 | Dié wat die Here dien, moet getuig: "Aan sy liefde is daar geen einde nie." | |
| 5 | In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en my bevry. | |
| 6 | Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan 'n mens aan my doen? | |
| 7 | Die Here is by my, Hy help my: ek sal neerkyk op dié wat my haat. | |
| 8 | Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou. | |
| 9 | Om by die Here te skuil, is beter as om op hoë mense te vertrou. | |
| 10 | Nasies het van alle kante af op my afgestorm. In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan. | |
| 11 | Hulle het my omsingel, my van alle kante bestorm. In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan. | |
| 12 | Hulle het soos bye om my gepak, maar hulle het verdwyn soos doringtakke in 'n vuur. In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan. | |
| 13 | My vyande wou my platloop en my ondergang bewerk, maar die Here het my gehelp. | |
| 14 | Die Here is my krag en my beskerming. Dit is Hy wat my gered het! | |
| 15 | Hoor die gejuig in die laer van die oorwinnaars: "Die Here doen kragtige dade, | |
| 16 | die Here triomfeer, die Here doen kragtige dade!" | |
| 17 | Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig. | |
| 18 | Die Here het my swaar gekasty, maar my nie aan die dood oorgegee nie. | |
| 19 | Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof. | |
| 20 | Dit is die poort na die Here toe; regverdiges mag daardeur ingaan. | |
| 21 | Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor en my gered het. | |
| 22 | Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. | |
| 23 | Dit is deur die Here gedoen en is 'n wonder in ons oë! | |
| 24 | Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. | |
| 25 | Red tog, Here, gee tog voorspoed, Here! | |
| 26 | Prys hom wat in die Naam van die Here kom! Ons seën julle uit die huis van die Here. | |
| 27 | Die Here is God; Hy skenk ons die lewe. Begin die fees! Wuif met takke! Gaan tot by die horings van die altaar. | |
| 28 | U is my God, U wil ek loof; my God, u grootheid wil ek besing. | |
| 29 | Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie. |
Ontwikkel deur