Skip to : [Content] [Navigation]

Kopiereg van die Bybelteks - © Bybelgenootskap van Suid Afrika

Vers nr. Vers Voetnota
1

In Egipte het die Here vir Moses en Aäron gesê:

2

“Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand; dit moet die eerste maand van die jaar word.

3

Sê vir die hele gemeente van Israel: Elkeen moet sorg dat hy op die tiende van hierdie maand 'n lam vir sy gesin het, vir elke huisgesin een.

4

As 'n huisgesin te klein is vir 'n lam, kan 'n man en sy naaste buurman dit onder mekaar verdeel volgens die getal persone. Julle moet die lam deel volgens elkeen se behoefte.

5

Dit moet 'n jaaroud rammetjie wees, sonder liggaamsgebrek, 'n skaap of 'n bok.

6

Julle moet hom goed oppas tot die veertiende van hierdie maand, en dan moet die hele gemeente van Israel teen laat middag slag.

7

Julle moet van die bloed smeer aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis waar julle die lam gaan eet.

8

Nog dieselfde nag moet julle die vleis eet. Julle moet dit gebraai eet, saam met ongesuurde brood en bitter kruie.

9

Julle moet dit nie rou of in water gekook eet nie, maar oor die vuur gebraai, met kop, pootjies, binnegoed en al.

10

Julle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie. As daar die volgende môre tog iets oor is, moet julle dit verbrand.

11

Julle moet dit haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand. Dit is die paasfees van die Here.

12

“Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here!

13

Die bloed aan die huise waarin julle is, sal 'n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie.

14

“Hierdie dag moet vir julle 'n gedenkdag wees. Julle moet dit as 'n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit 'n vaste instelling wees wat hulle moet vier.

15

Sewe dae lank moet die brood wat julle eet, ongesuurde brood wees. Reeds op die eerste feesdag moet julle ontslae raak van suurdeeg in julle huise, want elkeen wat in die sewe dae gewone brood eet, moet van Israel afgesny word.

16

Op die eerste en die sewende dag moet daar 'n gewyde byeenkoms wees. Op hierdie dae mag geen werk gedoen word nie, behalwe dat vir elkeen iets te ete voorberei kan word.

17

“Onderhou die fees van die ongesuurde brood, want die eerste dag van die fees is die presiese dag waarop Ek julle stamme uit Egipte sal bevry het. Julle en julle nageslagte moet dié dag altyd as 'n vaste instelling vier.

18

In die eerste maand moet julle van die aand van die veertiende af ongesuurde brood eet tot op die aand van die een en twintigste van die maand.

19

Sewe dae mag daar geen suurdeeg in julle huise wees nie, want elkeen wat gewone brood eet, sal van die gemeente van Israel afgesny word. Dit geld vir vreemdelinge sowel as vir gebore Israeliete.

20

Julle mag glad nie gewone brood eet nie. In al julle woonplekke moet julle net ongesuurde brood eet.”

21

Moses het toe al die leiers van Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Gaan vang vir julle gesinne elkeen 'n lam uit en slag die paaslam!

22

Neem 'n bossie hisop, doop dit in 'n bak met bloed en smeer die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn. Nie een van julle mag by sy deur uitgaan voor die volgende môre nie.

23

As die Here verbykom om die Egiptenaars te tref, sal Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn sien en dié deur oorslaan. Hy sal nie die dood in julle huise laat kom om julle te tref nie.

24

“Julle en julle kinders moet altyd hierdie voorskrif eerbiedig.

25

Wanneer julle in die land kom wat die Here vir julle gaan gee soos Hy beloof het, moet julle hierdie verpligting nakom.

26

As julle kinders sou vra: ‘Wat beteken hierdie verpligting?’

27

moet julle sê: Dit is 'n paasoffer aan die Here omdat Hy in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan het. Terwyl Hy die Egiptenaars getref het, het Hy ons huise gespaar.” Toe het die volk in aanbidding gebuig.

28

Soos die Here vir Moses en Aäron beveel het, presies so het die Israeliete gedoen.

29

Om middernag het die Here elke eersgeborene van Egipte laat sterf, van die kroonprins af, die eersgeborene van die farao, tot by die eersgeborene van die krygsgevangene in die tronk, selfs die eerstelinge van die diere.

30

Toe die farao, al sy amptenare en al die Egiptenaars dié nag wakker word, het hulle almal bitterlik aan die huil gegaan, want daar was nie 'n enkele Egiptiese huis sonder 'n sterfgeval nie.

31

Dieselfde nag nog het die farao vir Moses en Aäron laat roep en gesê: “Gee pad onder my mense uit, julle twee en al die ander Israeliete! Gaan dien die Here soos julle gevra het!

32

Vat julle kleinvee en julle grootvee soos julle gevra het, en trek! En bid dan dat dit met my ook goed mag gaan.”

33

Die Egiptenaars het sterk by die volk daarop aangedring om gou uit die land pad te gee, “want,” het hulle gesê, “anders is ons almal dood!”

34

Die volk het toe hulle brooddeeg, sonder suurdeeg, in skottels gesit, dit in hulle klere toegedraai en dit so op hulle skouers gedra.

35

Verder het die Israeliete die opdrag van Moses uitgevoer, naamlik om van die Egiptenaars silwer- en goue goed sowel as klere te eis.

36

Die Here het gesorg dat die Egiptenaars aan sy volk goed doen, sodat hulle uit Egipte as buit kon wegdra wat hulle ook al geëis het.

37

Die Israeliete het van Rameses af na Sukkot toe getrek. Behalwe die afhanklikes was daar sowat ses honderd duisend weerbare manne te voet.

38

Daar het ook 'n menigte mense van ander afkoms saamgegaan en ook groot troppe kleinvee en baie beeste.

39

Met die deeg wat hulle uit Egipte saamgebring het, het hulle ongesuurde roosterkoeke gebak: dit was sonder suurdeeg omdat hulle uit Egipte gejaag is en nie kans gehad het om eers vir hulle padkos klaar te maak nie.

40

Die Israeliete was vier honderd en dertig jaar in Egipte.

41

Na vier honderd en dertig jaar, presies op die dag waarop die fees nou gevier word, het die hele volk van die Here uit Egipte weggetrek.

42

Dit was die nag waarin die Here oor hulle gewaak het en hulle uit Egipte bevry het. Daarom behoort dié nag aan die Here en moet alle Israeliete en hulle nageslagte dié nag wakker bly.

43

Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Dit is die voorskrifte in verband met die paasfees: geen nie-Israeliet mag daarvan eet nie;

44

'n slaaf wat deur iemand gekoop is, mag eers daarvan eet nadat hy besny is;

45

geen bywoner of huurling mag daarvan eet nie.

46

Dit moet geëet word in die huis waarvoor dit bedoel is. Van die vleis mag niks buitentoe geneem word nie. Geen been van die paaslam mag gebreek word nie.

47

Die hele gemeente van Israel is verplig om die fees te vier.

48

Die vreemdeling wat jou beskerming geniet en die paasfees van die Here wil vier, moet besny word, hy en al die mans en seuns by hom. Dan eers is hy soos 'n gebore Israeliet en kan hy daaraan deelneem. Iemand wat nie besny is nie, mag nie daarvan eet nie.

49

Een en dieselfde bepaling moet geld vir die gebore Israeliet en vir die vreemdeling wat julle beskerming geniet.”

50

Al die Israeliete het gedoen presies wat die Here vir Moses en Aäron beveel het.

51

Presies op die dag waarop die fees nou gevier word, het die Here die stamme van Israel uit Egipte bevry.