| Vers nr. | Vers | Voetnota |
|---|---|---|
| 1 | Van Dawid. Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie, | |
| 2 | want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer. | |
| 3 | Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. | |
| 4 | Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. | |
| 5 | Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg. | |
| 6 | Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son, jou reg soos die helder lig van die middag. | |
| 7 | Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van 'n skelm nie. | |
| 8 | Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende. | |
| 9 | Die skelms sal uitgeroei word, maar dié wat hulle vertroue in die Here stel, sal in besit bly van die land. | |
| 10 | Nog 'n rukkie en daar sal geen goddelose meer wees nie; 'n mens sal hom soek waar hy was, maar hy sal nie daar wees nie. | |
| 11 | Dié wat nou verdruk word, sal die land besit en hulle verlustig in hulle welvaart. | |
| 12 | Die goddelose soek die ondergang van die regverdige en bedreig sy lewe. | |
| 13 | Die Here lag vir die goddeloses, want Hy sien hulle dag kom. | |
| 14 | Die goddeloses trek die swaard en span die boog om die hulpelose en die arme dood te maak, om dié wat die regte pad loop, te vermoor. | |
| 15 | Die goddeloses se swaarde sal hulle eie harte tref en hulle boë sal stukkend gebreek word. | |
| 16 | Die bietjie van die regverdige is beter as die rykdom van talle goddeloses, | |
| 17 | want die mag van die goddeloses sal verbreek word, maar die Here sal die hulp wees van die regverdiges. | |
| 18 | Die Here sorg vir die lewe van die opregtes, en wat hulle besit, sal hulle behou so lank hulle lewe. | |
| 19 | In tyd van nood sal hulle nie verleë staan nie, in tyd van gebrek sal hulle genoeg hê. | |
| 20 | Die goddeloses sal te gronde gaan, die vyande van die Here sal tot niet gaan; soos mooi weivelde wat in vlamme opgaan, so sal hulle verdwyn. | |
| 21 | Die goddelose leen en betaal nie terug nie, die regverdige kry jammer en help. | |
| 22 | Dié wat deur die Here geseën word, sal die land besit; maar dié wat deur Hom vervloek is, sal uitgeroei word. | |
| 23 | Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom. | |
| 24 | As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op. | |
| 25 | Ek was jonk en ek het oud geword, maar nooit het ek 'n regverdige verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie. | |
| 26 | Hy is altyd vrygewig, hy leen uit sonder rente: met sy nageslag sal dit goed gaan. | |
| 27 | Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, dan sal jy die land altyd bewoon, | |
| 28 | want die Here het die reg lief en sy troue dienaars verlaat Hy nie. Hulle sal altyd behoue bly, maar die nageslag van die goddeloses sal uitgeroei word. | |
| 29 | Die regverdiges sal die land besit en altyd daarin woon. | |
| 30 | Wat die regverdige praat, is wysheid, wat hy sê, stem ooreen met die reg. | |
| 31 | Die openbaring van sy God is in sy hart, sy koers is nie onseker nie. | |
| 32 | Die goddelose lê die regverdige voor en soek 'n kans om hom dood te maak, | |
| 33 | maar die Here los hom nie in die mag van die goddelose nie en laat nie toe dat hy veroordeel word as hy voor die regbank staan nie. | |
| 34 | Vertrou op die Here en bly op sy weë; Hy sal jou weer laat opstaan om die land te besit, en jy sal die ondergang van die goddeloses aanskou. | |
| 35 | Ek het al gesien dat 'n slegte, roekelose mens geil opskiet soos 'n plant, | |
| 36 | en toe ek weer verbykom, was hy nie meer daar nie; ek het hom gesoek en hy was nêrens nie. | |
| 37 | Maar let nou op die eerbare mens, kyk na die opregte: die regskape man, vir hom is daar 'n toekoms. | |
| 38 | Dié wat hulle teen die Here verset, word voor die voet uitgewis, die toekoms van die goddeloses word afgesny, | |
| 39 | maar die regverdiges word deur die Here gered. Hy is hulle toevlug in tyd van nood. | |
| 40 | Die Here help hulle en Hy bevry hulle, Hy bevry hulle van die slegte mense en red hulle, want hulle skuil by Hom. |
Ontwikkel deur