Vers nr. | Vers | Voetnota |
---|---|---|
1 | Vir die koorleier: op die wysie van “Die wildsbok van die daeraad”. 'n Psalm van Dawid. | |
2 | My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? | |
3 | My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie. | |
4 | U is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van Israel weerklink! | |
5 | Op U het ons voorvaders vertrou. Hulle het vertrou en U het hulle gered. | |
6 | Hulle het na U om hulp geroep en hulle is bevry; op U het hulle vertrou en hulle is nie beskaam nie. | |
7 | Maar ek is 'n wurm, nie 'n mens nie. Ek word deur die mense bespot en deur die volk verag. | |
8 | Almal wat my sien, spot my, hulle steek vir my tong uit en knik met voldoening die kop en sê: | |
9 | “Laat dit aan die Here oor! Laat Hý hom red, laat Hý hom bevry as Hy dan so baie van hom hou.” | |
10 | U het my die eerste lewenslig laat sien, my veilig laat rus aan die bors van my moeder. | |
11 | Van my geboorte af is ek onder u sorg, van die begin van my lewe af is U my God. | |
12 | Moet tog nie so ver van my af weg bly nie, want die nood is naby en daar is niemand wat help nie. | |
13 | 'n Wreedaardige klomp mense het my omsingel, soos beeste uit Basan staan hulle my toe. | |
14 | Soos verskeurende, brullende leeus storm hulle met oop bekke op my af. | |
15 | Ek is soos uitgestorte water, al my bene het uitmekaar geval, my hart het soos was geword, dit smelt weg in my. | |
16 | Ek is so min werd soos 'n potskerf, my tong kleef aan my verhemelte, U laat lê my asof ek dood is. | |
17 | Soos honde omsingel hulle my, die bende misdadigers sak op my toe, hulle bind my hande en voete vas. | |
18 | Al wat been in my is, kan ek tel; hulle kyk na my met leedvermaak. | |
19 | Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel. | |
20 | En U, Here – moet tog nie so ver bly nie, Bron van my krag, help my tog gou! | |
21 | Red my van die swaard, my kosbare lewe uit die mag van die honde. | |
22 | Red my uit die bek van die leeu en tussen die horings van die wilde beeste uit. U het my gebed verhoor! | |
23 | Ek sal tot eer van u Naam getuig in die gemeente, U in die volle vergadering prys. | |
24 | Julle wat die Here dien, prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob! Betoon Hom eerbied, nageslag van Israel! | |
25 | Die nood van die hulpelose het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie, Hom daarvan nie teruggetrek nie, maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor. | |
26 | My loflied in die volle vergadering kom van Hom af, my geloftes sal ek nakom voor die mense wat Hom dien. | |
27 | By dié offermaaltyd sal die armes genoeg hê om te eet, en sal dié wat na die wil van die Here vra, Hom prys. Mag hulle lank en gelukkig lewe. | |
28 | Mense oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer. Alle volke sal Hom as koning erken, | |
29 | want die koningskap behoort aan die Here; Hy heers oor die volke. | |
30 | Al die rykes van die wêreld sal ook aan dié maaltyd deelneem en Hom as koning erken, ja, alle mense, sterflik en verganklik, sal voor Hom kniel. | |
31 | Die nageslag sal Hom dien, en hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag. | |
32 | Dié sal dan aan die volk wat nog gebore moet word van hierdie verlossingsdaad getuig: die Here het dit gedoen. |