Vers nr. | Vers | Voetnota |
---|---|---|
1 | Jesus het weer in gelykenisse met die mense gepraat. | |
2 | Hy het gesê: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n koning wat vir sy seun 'n bruilofsfees voorberei het. | |
3 | Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie. | |
4 | Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe.’ | |
5 | “Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en 'n ander een na sy werkplek toe gegaan. | |
6 | En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak. | |
7 | Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek. | |
8 | “Toe sê hy vir sy slawe: ‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie. | |
9 | Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe.’ | |
10 | Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword. | |
11 | “Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar 'n man wat nie bruilofsklere aan het nie, | |
12 | en hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?’ Maar die man kon niks antwoord nie. | |
13 | Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’ | |
14 | “Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.” | |
15 | Toe het die Fariseërs gaan besluit om Jesus met 'n vraag in 'n val te lok. | |
16 | Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met 'n aantal Herodiane om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie. | |
17 | Sê vir ons wat dink u: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?” | |
18 | Maar Jesus het deur hulle valsheid gesien en vir hulle gesê: “Huigelaars! Waarom stel julle vir My 'n strik? | |
19 | Wys vir My die muntstuk waarmee die belasting betaal word.” Hulle bring toe die muntstuk vir Hom, | |
20 | en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?” | |
21 | “Die keiser s'n,” antwoord hulle. Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.” | |
22 | Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en het hulle Hom met rus gelaat en weggegaan. | |
23 | Op dieselfde dag het daar Sadduseërs by Jesus gekom. Dit is hulle wat beweer dat daar nie 'n opstanding is nie. Hulle vra Hom toe: | |
24 | “Meneer, Moses het gesê: ‘As iemand sterwe sonder om kinders te hê, moet sy broer met die weduwee trou en 'n nageslag vir sy broer verwek.’ | 22:24: Vgl. Deut. 25:5; Gen. 38:8 . |
25 | Nou was daar by ons sewe broers. Die oudste het getrou en gesterwe. Omdat daar nie kinders was nie, het sy broer met die weduwee getrou. | |
26 | Dieselfde het gebeur met die tweede en die derde broer en uiteindelik met al sewe. | |
27 | En heel laaste van almal het die vrou ook gesterwe. | |
28 | Met die opstanding dan, wie se vrou sal sy wees? Al sewe het haar mos as vrou gehad.” | |
29 | Maar Jesus antwoord hulle: “Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie. | |
30 | Met die opstanding trou die mense nie meer nie, maar is hulle soos die engele in die hemel. | |
31 | En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: | |
32 | ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’ ? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes.” | 22:32: Eks. 3:6, 15, 16. |
33 | Toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer. | |
34 | Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, | |
35 | en een van hulle, 'n wetgeleerde, het Hom met 'n vraag probeer vastrek. | |
36 | “Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?” | |
37 | Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. | 22:37: Vgl. Deut. 6:5 . |
38 | Dit is die grootste en die eerste gebod. | |
39 | En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ | 22:39: Lev. 19:18 . |
40 | In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.” | |
41 | Toe die Fariseërs bymekaar was, vra Jesus vir hulle: | |
42 | “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?” “Dawid s'n,” antwoord hulle Hom. | |
43 | Hy sê toe vir hulle: “Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan ‘Here’ genoem? Hy sê tog: | |
44 | “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.’ | 22:44: Vgl. Ps. 110:1 . |
45 | “As Dawid self Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?” | |
46 | Niemand kon Hom daarop iets antwoord nie. Van dié dag af het niemand dit meer gewaag om Hom 'n vraag te stel nie. |