Vers nr. | Vers | Voetnota |
---|---|---|
1 | “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van 'n wingerd wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. | |
2 | “Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk. | |
3 | Teen nege-uur gaan hy weer uit en sien ander werkloos op die mark rondstaan, | |
4 | en hy sê vir hulle: ‘Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal.’ | |
5 | Hulle is toe soontoe. Teen twaalfuur en teen drie-uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. | |
6 | Omtrent vyfuur gaan hy uit en kry ander wat daar rondstaan, en hy sê vir hulle: ‘Waarom staan julle heeldag werkloos hier rond?’ | |
7 | Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ ‘Gaan werk julle ook in my wingerd,’ sê hy toe vir hulle. | |
8 | “Toe dit aand word, sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman: ‘Roep die arbeiders en betaal hulle hulle loon. Begin by die laastes en eindig by die eerstes.’ | |
9 | “Dié wat teen vyfuur gehuur is, kom toe en kry elkeen die gewone dagloon. | |
10 | Die mense wat eerste gehuur is, het gedink hulle sou meer kry, maar toe hulle aan die beurt kom, kry hulle ook elkeen die gewone dagloon. | |
11 | Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla | |
12 | en sê: ‘Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.’ | |
13 | “Maar hy antwoord een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie? | |
14 | Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. | |
15 | Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’ | |
16 | “So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.” | |
17 | Terwyl Jesus na Jerusalem toe op pad was, neem Hy die twaalf dissipels opsy, en so in die loop sê Hy vir hulle: | |
18 | “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel. | |
19 | Hulle sal Hom uitlewer aan die heidene, wat Hom sal bespot en gesel en kruisig. En op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.” | |
20 | Toe kom die vrou van Sebedeus met haar twee seuns by Jesus en kniel voor Hom om Hom 'n guns te vra. | |
21 | “Wat kan Ek vir u doen?” vra Hy vir haar. Sy sê vir Hom: “Belowe my dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk langs U mag sit, een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.” | |
22 | Toe antwoord Jesus: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die lydensbeker drink wat Ek gaan drink?” “Ons kan,” antwoord hulle. | |
23 | Jesus sê toe vir hulle: “Ja, my beker sal julle drink. Maar om aan my regter- en my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie my Vader dit gereed gemaak het.” | |
24 | Toe die tien ander dissipels dit hoor, was hulle kwaad vir die twee broers. | |
25 | Jesus roep hulle toe nader en sê: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. | |
26 | Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; | |
27 | en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. | |
28 | So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” | |
29 | Toe hulle uit Jerigo uitgaan, het 'n groot menigte Jesus gevolg. | |
30 | Twee blinde mans wat langs die pad gesit het, het gehoor dat Jesus verbykom. Toe roep hulle uit: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” | |
31 | Die mense het met hulle geraas en gesê hulle moet stilbly, maar hulle het al hoe harder geroep: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” | |
32 | Jesus het gaan staan, hulle geroep en gevra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” | |
33 | Hulle sê toe vir Hom: “Here, dat ons oë oopgaan.” | |
34 | Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het hulle Hom gevolg. |