Skip to : [Content] [Navigation]

Kopiereg van die Bybelteks - © Bybelgenootskap van Suid Afrika

Vers nr. Vers Voetnota
1

Op die vier en twintigste dag van dié maand het die Israeliete vir 'n vasdag bymekaargekom. Hulle het rouklere aangehad en daar was grond op hulle koppe.

2

Die nakomelinge van Israel het hulleself afgeskei van alle nie-Israeliete en toe hulle plekke ingeneem en belydenis gedoen van hulle sonde en van die oortredings van hulle voorvaders.

3

Hulle het op hulle plekke bly staan en het 'n kwart dag lank voorgelees uit die wetboek van die Here hulle God. Nog 'n kwart dag lank het hulle belydenis gedoen en voor die Here hulle God gebuig.

4

Die Leviete Jesua, Bani, Kadmiël, Sebanja, Bunni, Serebja, Bani en Kenani het op die verhoog gaan staan en die Here hulle God hard om hulp aangeroep.

5

Daarna het die Leviete Jesua, Kadmiël, Bani, Gasabneja, Serebja, Hodija, Sebanja en Petagja gesê: “Kom, prys die Here julle God! Hy is van ewigheid tot ewigheid.” Toe het hulle u magtige Naam geprys verhewe bo alle lof en roem.

6

Dit is U! U alleen is Here! U het die hemel gemaak, die hoogste hemel en sy hele leërmag, die aarde en alles daarop, die oseane en alles daarin. U laat hulle almal lewe; die hemelse leërmag buig voor U.

7

U is die Here, die God wat vir Abram gekies het, hom uit Ur van die Galdeërs gebring het en sy naam Abraham gemaak het.

9:7: Vgl. Gen. 17:5 .
8

U het hom getrou teenoor U bevind, met hom 'n verbond gesluit dat U die land van die Kanaäniete, die Hetiete en Amoriete, die Feresiete, Jebusiete en Girgasiete, aan sy nageslag sou gee, en U het u belofte nagekom; U is betroubaar.

9

U het die nood van ons voorvaders in Egipte gesien, gehoor toe hulle by die Rietsee om hulp geroep het,

10

en groot, magtige dade gedoen, teen die farao, teen sy amptenare en teen die mense in sy land, want U het geweet dat hulle u volk met minagting behandel het. U het die roem van u Naam groot gemaak, so soos dit vandag nog is.

11

U het die see gekloof voor hulle, hulle kon op droë grond daardeur trek; maar U het hulle agtervolgers in die vloedwaters gegooi soos 'n klip in magtige waters.

12

Met 'n wolkkolom het U hulle bedags gelei, met 'n vuurkolom snags om vir hulle lig te maak op die pad waar hulle langs moes trek.

13

U het op Sinaiberg afgekom, met hulle uit die hemel gepraat en vir hulle bepalings vasgestel wat billik is, wette wat vas staan, voorskrifte en gebooie wat goed is.

14

U het hulle geleer van u gewyde sabbat en aan hulle gebooie, voorskrifte en 'n wet gegee deur Moses, u dienaar.

15

U het vir hulle brood gegee uit die hemel toe hulle honger was, vir hulle water uit 'n rots laat stroom toe hulle dors was. U het gesê hulle kan die land in besit kom neem wat U met 'n eed beloof het om aan hulle te gee.

16

Maar hulle, ons voorvaders, was vermetel, hulle koppe was hard, hulle het nie u gebooie gehoorsaam nie.

17

Hulle het geweier om te luister, hulle het nie die wonderdade onthou wat U vir hulle gedoen het nie. Hulle koppe was hard, hulle het in verset gekom en wou in hulle koppigheid terug na hulle slawerny. Maar U is 'n God wat vergewe, genadig, barmhartig, lankmoedig, vol liefde. U het hulle nie verlaat nie.

18

Ook toe hulle vir hulle die kalfsbeeld gegiet het en gesê het: “Hier is jou God wat jou uit Egipte gebring het,” en toe hulle skandelike dinge gedoen het,

19

het U in u groot barmhartigheid hulle nie in die woestyn gelos nie. Die wolkkolom het bedags nie van hulle af weggedraai nie maar hulle op die pad bly lei; die vuurkolom was snags daar om vir hulle lig te maak op die pad waar hulle langs moes trek.

20

U het u goeie Gees gegee om hulle te onderrig, U het u manna nie van hulle teruggehou nie, U het vir hulle water gegee vir hulle dors.

21

Veertig jaar lank het U vir hulle gesorg, hulle het niks kortgekom in die woestyn nie. Hulle klere het nie verslyt nie, hulle voete het nie geswel nie.

22

U het koninkryke, volke, aan hulle gegee, gebiede aan hulle toegewys: hulle het die land van Sihon in besit geneem, die land van die koning van Gesbon, en die land van koning Og van Basan.

23

U het hulle nageslag so baie laat word soos die sterre aan die hemel. U het hulle gebring na die land waarvan U aan hulle voorvaders gesê het dat hulle dit in besit sal kom neem.

24

Hulle kinders het gekom en die land in besit geneem. U het die inwoners van die land, die Kanaäniete, voor u volk laat buig en hulle oorgegee in die mag van u volk. U volk kon doen wat hulle wou met die konings en die volke in die land.

25

U volk het vestingstede beset en vrugbare grond. Hulle het beslag gelê op huise vol kosbare goed, putte wat klaar gegrawe was, wingerde en olyfboorde, vrugtebome in oorvloed. Hulle het geëet, meer as genoeg, vet geword, en hulle verlustig in u groot goedheid.

26

Maar hulle het opstandig geword en teen U in verset gekom, hulle het u wet verwerp en u profete doodgemaak wat hulle gewaarsku het om na U terug te kom. Hulle het skandelike dinge gedoen.

27

Toe het U hulle oorgegee in die mag van hulle teëstanders, dat dié hulle verdruk. Toe dit sleg met hulle gaan, het hulle na U geroep om hulp, en U het uit die hemel hulle gebed verhoor. In u groot barmhartigheid het U aan hulle redders gegee, en dié het hulle gered uit die mag van hulle teëstanders.

28

Maar toe hulle rus kry, het hulle weer teen U oortree, en U het hulle in die mag van hulle vyande gelos dat dié oor hulle kon heers. Hulle het weer na U om hulp geroep, en U het uit die hemel hulle gebed verhoor en in u barmhartigheid het U hulle gered, keer op keer.

29

U het hulle gewaarsku om terug te kom na u wet, maar hulle was vermetel, ongehoorsaam aan u gebooie. Hulle het gesondig teen u bepalings wat 'n mens laat lewe as hy hulle nakom. Hulle was moedswillig, hulle koppe was hard, hulle was ongehoorsaam.

30

U was geduldig met hulle, baie jare lank, U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete, maar hulle het nie geluister nie. Toe het U hulle oorgegee in die mag van heidenvolke,

31

maar in u groot barmhartigheid het U hulle nie heeltemal uitgewis nie, hulle nie verlaat nie. U is 'n genadige, 'n barmhartige God.

32

En nou, ons God, grote God, magtig en ontsagwekkend, U wat die verbond en die troue liefde in stand hou, moet tog nie al dié ellende gering ag nie, die ellende wat ons, ons konings, ons amptenare, ons priesters, ons profete, ons voorvaders, u hele volk, getref het van die tyd van die Assiriese konings af tot vandag toe.

33

In alles wat oor ons gekom het, was U regverdig; U het reg gedoen, ons verkeerd.

34

Ons konings, ons amptenare, ons priesters, ons voorvaders het nie u wet gehoorsaam nie, nie gelet op u gebooie, u verordeninge waarmee U hulle gewaarsku het nie.

35

Hulle konings het nog geregeer en hulle het nog u groot goedheid geniet wat U hulle gegee het en in die wye, vrugbare land gewoon wat U aan hulle gegee het; al het hulle U nie gedien nie en hulle nie bekeer van hulle slegte dade nie.

36

Hier is ons vandag slawe, ons is slawe in hierdie land, die land wat U aan ons voorvaders gegee het dat hulle die vrug daarvan en die goeie dinge daarin kan geniet.

37

Sy ryke opbrengs behoort aan die konings wat U oor ons aangestel het as gevolg van ons sondes; die konings maak met ons en ons vee soos hulle wil. Ons verkeer in groot nood.

38

Daarom gaan ons 'n skriftelike onderneming aan. Op die verseëlde dokument teken ons leiers, ons Leviete en ons priesters hulle name.